OUD-Jeugie Petroné Snyman (25) se wildste drome is oorskry toe haar kêrel, Charl Kruger (26), haar op 4 Desember met kitsskare (“flasmob”) die jawoord gevra het.
Sy het gedink hulle gaan net vir ‘n Sondagoggendontbyt, wat toe in ‘n romantiese piekniek met ‘n kitsskare en dansgroep verander het.
“Hulle sê altyd ‘n mens weet. Ek het dadelik geweet hier is iets groter aan die kom toe ek hom ontmoet het. My maag het dadelik gedraai. Ons het ‘n jaar later ons eerste koffie-‘date’ gehad en van daar af was dit net verlief wees en daarna liefde wat geblom het,” vertel Snyman.
Op 4 Desember, nadat Kruger vir Snyman by ‘n vriendin opgelaai het, het hulle by ‘n vulstasie gestop, want Charl wou ys koop vir die piekniek by Magnoliadal-park.
“Ek kon nie help om te dink nie – wat as hy my vandag vra om te trou? Ek het dadelik vir handeroom of naelolie in my handsak begin soek, maar soos die noodlot dit wou hê, was daar niks. Ek het elke nael met my bloes blink gevryf en lipstiffie aangesit.”
Hulle het by die park in Pretoria parkeer en ’n sitplek gekry. Snyman het vertel toe sy die koelkis, rugsak en plastieksakke met eetgoed sien, het sy besluit haar vermoede was dalk verkeerd.
“Hy het my in ’n spoggerige restaurant gevra om sy meisie te wees, so ek het gedink hy sal seker weer iets ‘fancy’ doen,” vertel sy.
Kruger het haar op die grasperk gelos om eers ‘n draai te gaan loop. Terwyl sy vir hom gewag het, het daar saggies musiek begin speel.
“Ek het nooit opgelet nie dat daar so baie mense in die park is en dat die meeste van hulle wit klere aan het. Toe ek opkyk, het van die meisies begin dans en vir my ’n blompot vol sonneblomme gegee.”
“Charl weet ek is baie lief vir blomme en bederf my gereeld daarmee.”

Die dansers het meer geword en elke nou en dan het ‘n danser nog van haar gunstelingblomme aangedra. Daar was proteas, rooi rose en sonneblomme. Selfs ’n pakkie snesies.
“Dit het gevoel of die hele Vaaldam se water by my oë uitloop; ek is ‘n vreeslike emosionele mens. Na dit het ek hom net bly soek. Die oomblik was baie groot en die dans het omtrent drie ure lank gevoel. Dit was fantasties.”
Ná ’n ruk het Kruger tussen die dansers verskyn. “Hy het na my toe geloop en my gehelp om op te staan. Toe het hy vir my gesê hy is baie lief vir my en dat hy vandag die belangrikste en beste besluit van sy lewe neem.”
Agter die skerms het Kruger ook gereël dat daar ‘n foto- en videograaf wegkruip om die spesiale oomblik vas te vang.
Die paartjie het na die tyd sommer ‘n verlowings-fotosessie gehad.
“Ek het na die tyd uitgevind dat hy twee maande lank aan die dag beplan het,” vertel Snyman.
Hy het dansers van El’Shebang-dansateljee in Elarduspark gevra om hom te help. Hulle het ongeveer ses weke lank die dansroetine gerepeteer.
Snyman beskryf Kruger as ‘n geskenk van bo, romanties, ongelooflik aantreklik en die grootste man met nog ‘n groter hart vir die mense naby aan hom.
Die paartjie, wat mekaar twee en ‘n half jaar terug in Pretoria by ‘n kommune-kuier ontmoet het, gaan in April trou.
‘n Video van die dag is beskikbaar op www.kemptonexpress.co.za

