AfriForum en polisie vat hande
Die ooreenkoms het ten doel om kommunikasie tussen AfriForum en die polisie te versterk
DIE AfriForum-tak in Kemptonpark het op 10 Februarie hul samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Norkempark bevestig.
Dit kom nadat die plaaslike AfriForum-tak ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms, wat op 16 Januarie tussen AfriForum en die SAPD (nasionaal) in Centurion gesluit is, aan die stasiebevelvoerder, kol Tobie Strauss, oorhandig het.
“Die ooreenkoms het ten doel om kommunikasie tussen AfriForum en die polisie te versterk. AfriForum-buurtwagte sal voortaan ook ’n erkende rolspeler wees om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid.
“Dit is verblydend om te sien dat die polisie bereid is om met AfriForum-buurtwagte hande te vat en ons by te staan met ons projekte en inisiatiewe,” sê Jan Vermaak, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Kemptonpark.
