Tassie-projek maak ‘n verskil by talle skole
Fondsinsameling vir die tassies vind deur die loop van die jaar plaas
IN samewerking met die Solidariteit Helpende Hand se hoofkantoor, het die plaaslike tak in Januarie 133 skooltassies by sewe laerskole regoor Kemptonpark afgelewer.
As deel van die nasionale tassie-projek word daar jaarliks skooltassies met al die nodige skryfbehoeftes aan behoeftige graad eens geskenk om seker te maak dat hulle nie hul eerste skooljaar met ‘n agterstand begin nie.
“Vanjaar het ons plaaslike tak se ywerige vrywilligers tassies by Laerskole Bredell, Van Riebeeckpark, Kempton, Birchleigh, Kruinsig, Edleen en Impala afgelewer,” het Helpende Hand se takvoorsitter, Ella Pieterse, verduidelik.
Die koste van elke tassie beloop R800 en verseker dat behoeftige graad eens die eerste rang van hul skoolloopbaan op ‘n goeie noot begin.
Fondsinsameling vir die tassies vind deur die loop van die jaar plaas. Vir meer inligting oor hierdie projek of om aan te sluit by die Kemptonpark-tak, skakel Pieterse by 082-406-3655.
