Jong Dean kook op Kokkedoortjie
Kokkedoortjie is nie Dean se eerste kompetisie in die kombuis nie
kykNET se gewilde koswerklikheidsreekse, Kokkedoor en Koekedoor, se nuwe “kuiken” broei vroeg in April uit.
Kokkedoortjie, waar 10 jong deelnemers hul kookvaardighede op die proef stel, begin op 5 April om 8nm op kykNET. Die deelnemers se ouderdomme wissel tussen 10 en 14 en een van hulle is van Kemptonpark.
Dean Barnard (12) van Glen Marais is een van die gelukkiges wat uit duisende inskrywings gekies is.
Lees ook:
• Kruinie cook claims third place in regionals
Die beoordelaars van Kokkedoortjie is Nic van Wyk en Mari-Louis Guy, wat onderskeidelik ook in Kokkedoor en Koekedoor oor deelnemers se lot help besluit het.
Kokkedoortjie is in ’n splinternuwe ateljee by Atlantic Studios in Milnerton, waar reekse soos Suidooster ook vervaardig word, geskiet. Daar is 13 episodes en ’n episode is ’n halfuur lank.
Dean, ‘n graad 7 leerling by Laerskool Kruinsig, hou reeds van jongs af daarvan om in die kombuis te bak en brou.
“Toe hy sewe was kon hy al die kombuis sonder die hulp van ‘n volwassene oorneem en ‘n eenvoudige koek, muffins of botterbroodjies bak,” het sy ma Bronwyn gesê.
Sy gunsteling-gereg op die oomblik is Crème Brulee, aangesien hy ‘n gasflamblaser vir Kersfees gekry het. “Maar sy botterhoender, Nasi Goreng, gekrummelde hoender en visgeregte is altyd ‘n wenner,” glo Bronwyn.
Dean se soettand neem egter altyd oor. Hy pak enige gebak aan met baie liefde, baie suiker en baie sjokolade. Hy sorg ook amper elke aand vir aandete.
Tydens sy eerste uitdun-oudisie moes hy ses ‘cupcakes’ maak wat homself uitbeeld. So het die uitdunne aangehou totdat net die top 10 uit sowat 3 000 oorgebly het.
Kokkedoortjie is nie Dean se eerste kompetisie in die kombuis nie. In 2015 het hy aan die Hirsch’s Junior Chef-kompetisie deelgeneem waar hy die Oos-Randafdeling gewen het en derde in Gauteng was.
Hy wil eendag ‘n deegsjef (‘pastry chef’) word.
