Kempton-Kruin hou Emoji-kindernaweek
Daar gaan ook tydens die naweek 'n ouerskappraatjie wees

DIE kinderbediening van die NG Gemeente Kempton-Kruin bied vanjaar sy sewende kindernaweek vanaf 22-24 September aan.
Die naweek is spesiaal vir alle kinders van vier tot 13 jaar en is propvol pret en opwindende aktiwiteite.
Die tema vir vanjaar se kindernaweek is Emoji, waartydens op die vorming en uitbouing van kinders se emosionele intelligensie gefokus gaan word. Die leuse vir die naweek is Emosies met Jesus Insync.
Die spesifieke doelstellings ten opsigte van die tema van Emoji is:
• Help kinders om te besef dat Jesus ons elkeen gemaak het met verskillende emosies en dat ons emosionele welstand en uitdrukking vir Hom belangrik is.
• Leer kinders om hul emosies beter te leer ken en om dit te kan uitdruk.
• Leer kinders om ander mense se emosies te verstaan en daarop te reageer.
Die algemene doelstellings ten opsigte van die aanbieding van ‘n kindernaweek soos hierdie is:
• Die begeleiding van kinders tot bekering en geloofsekerheid.
• Die aanspreek van die geestelike nood van kinders.
• Fokus op gebed en kinders se verhouding met Jesus Christus.
• Die aanbied van ‘n gratis kindernaweek vir kinders van die gemeenskap van Kempton Park.
• Om uit te reik na die plaaslike gemeenskap.
Die naweek skop die Vrydag met registrasie van 4nm tot 6nm by die kerk af. ’n Groot hoogtepunt van die naweek is die premier van The Emoji Movie, wat die groep om 7nm by Nu Metro by Emperors Palace gaan kyk. Benewens die Vrydagaandfliek, is die Saterdag propvol rondomtalie speletjies wat om verskillende emosies handel, saamsing en saamspeel.
Daar gaan ook tydens die naweek ‘n ouerskappraatjie deur die kliniese sielkundige Erich Schoeman die Saterdagoggend van 9vm tot 10.30vm aangebied word. Die tema is: “hoe maak ons met die emosies in ons huis?”
Die naweek word die Sondagoggend om 9vm met ‘n gesamentlike gesinsdiens en bring-en-braai om 11vm afgesluit.
Inskrywings sluit op 14 September. Kinders se besprekingsfooi vir die naweek (fliekkaartjie, alle etes, verversings en aktiwiteite is R100 vir een kind, R180 vir twee kinders, R250 vir drie kinders en R320 vir vier kinders).
‘n Fliekkaartjie vir ouers kos R70 (fliek, Vrydagaandete en verversings). Fliekkaartjies vir kinders wat net Vrydagaand bywoon is R50 (fliek, Vrydagaandete en verversings).
Die koste van die ouerskappraatjie is R50 elk.
Inskrywings kan gedoen word by die kerkkantoor (Maandae tot Vrydae 7.30vm tot 4nm), Kruin-Kerk App (onder kerkbesprekings), Sondae (3 en 10 September) by die kinderkerk of e-pos kinders@kruin-kerk.co.za
Vir meer inligting, skakel die kerkkantoor by 011 391 1343 of Michelle van Tonder by 083 649 8301.
