
AfriForum se Kempton Park-buurtwag het op 5 Oktober, in samewerking met die polisie, ’n verdagte in hegtenis geneem wat glo R17 000 by ’n motorhandelaar in Norkempark verduister het.
“Dít volg nadat ’n buurtwaglid ’n oproep van die handelaar ontvang het wat hulp gesoek het om die verdagte op te spoor nadat ’n klag teen dié individu by Bramley Polisiestasie aanhangig gemaak is,” het Jan Vermaak, voorsitter van die Kemptonpark-tak, gesê.
“Die buurtwag het ingestem om in samewerking met Bramley SAPD bystand te verleen. Een van die buurtwaglede het in die teenwoordigheid van ’n speurder telefonies ’n ontmoeting met die verdagte by ’n winkelsentrum in Norkempark gereël.
“Na afloop van die ontmoeting het die verdagte in haar voertuig geklim en weggery. Sy is egter deur die polisie agtervolg, waarna hulle haar gestop en ondervra het,” volgens Vermaak.
Volgens Vermaak het die verdagte gesê dat ’n foto van haar eintlik haar tweelingsuster is, waarna ’n buurtwaglid haar selnommer geskakel het. Die verdagte se selfoon het begin lui en sy het erken dat sy wel die verdagte is waarna die polisie op soek is.
Sy is in hegtenis geneem en na die Bramley Polisiestasie geneem.
“Dit is verblydend om te sien hoe die polisie op AfriForum se knoppie kan druk in die voortdurende stryd om misdaad te bekamp,” het Vermaak gesê.
