‘n TROTSER Laerskool Impala kan mens nie kry nie nadat die skool se junior revue as die Suid-Afrikaanse junior kampioen gekroon is.
Die groep bestaan uit graad een tot vier leerders.
Die ouerkorps het soos een man agter hierdie seuns en meisies gestaan en saam met personeellede Sherice van Rooyen, Mariska Conradie en Alicia Swart was ’n wenvennootskap ’n gegewe.
Die junior revuegroep het aan verskeie kompetisies deelgeneem en is ook as wenners by Kemptonpark Kunswedstryd met ’n uitmuntende punt van 95.5 persent aangewys.
Hulle het aan die Kaleidoscope-finaal deelgeneem en was derde by die Lefra-finaal (hoërskool-, senior- en juniorgroepe neem gesamentlik deel).
Die kersie op die koek is egter die feit dat die groep as die Suid-Afrikaanse junior kampioen gekroon is.
Dr Ellen Roux, stigter en besturende direkteur van dié kompetisie, het spesiaal die trofee by die skool kom oorhandig en het beklemtoon dat slegs deur harde en volhoubare werk so ’n prestasie moontlik is.
Sy het weer eens die skool, ouers en leerders met ’n ongelooflike vertoning gelukgewens.
Laerskool Impala bedank sy ouerkorps en elke leerder wat aan hierdie produksie verbonde was.

