GLIMLAGGIES gaan Kersfees op honderde kinders se gesigte wees danksy die vrygewigheid van leerders van Laerskool Impala.
Die skool het besluit om die jaarlikse Santa Shoebox-projek weer te ondersteun waardeur geskenke vir minderbevoorregte kinders ingesamel word.
Die projek het in 2006 in Kaapstad ontstaan en sedertdien word daar jaarliks vir kinders in Suid-Afrika en Namibië geskenke bymekaar gemaak.
Om deel van die projek te wees, beloof jy om ‘n “shoebox” te gee met agt items in. Die geskenke word dan by een van agt plekke in Suid-Afrika afgelewer.
Elke “skoenboks-geskenk”, wat vrolik toegedraai is, bevat ‘n tandeborsel, tandepasta, seep, waslap, lekkergoed, skryfbehoeftes, speelding en ‘n klere-item.

Laerskool Impala het weer eens sy hart vir dié projek oopgemaak. Dit was wonderlik om te sien hoe leerders opgewonde hul geskenke gepak en versier het.
Deur dié projek te ondersteun, word jongmense geleer hoe bevoorreg hulle is en die waarde daarvan om te kan gee.
Leerders het meer as 560 geskenke gegee. Elke geskenk word vir die ontvanger gepak, aangesien die skenker die kind se naam, geslag en ouderdom gegee word.
Al die items moet nuut wees.
“Dit is die tweede jaar dat Impala by die projek betrokke is,” sê Charné Fourie, ‘n onderwyser by die skool.
“Laasjaar het ons 463 geskenke gemaak. Ons is opgewonde oor die groei vanjaar en waardeer die leerders en hul gesinne se belangstelling. Die projek beteken vir ons baie en ons hoop om eendag 1 000 geskenke in te samel.”
Om by die projek betrokke te raak, besoek santashoebox.org.za.
