Oud en jonk, maak vir jou ‘n ‘bucket list’
Jarelange inwoner gesels oor sy eie lys en wat dit vir hom beteken.
Gerhard van Eeden (67), wat reeds sedert 1953 in Kempton Park bly, sê hy is ’n man van min woorde.
“Ek is ’n getroue leser van Kempton Express, het skoolgegaan by Laerskole Kemptonpark en Kreft en Hoërskool Kempton Park en oor al die jare was ek drie keer in die koerant.
“Ons koerant is so vol geweld, verdriet en lelike dinge, maar dan is daar tog die mooi in die jeug, bejaardes wat herdenkings vier en mense wat ander help en die wat in sport presteer. En moenie die ouens vergeet wat adverteer om die koerant moontlik te maak nie.
“Ek wil ’n boodskap los aan ons Kemptonparkers, oud en jonk of is dit dalk jonk en oud?
“Maak vir jou ’n ‘bucket list’; dit maak nie saak hoe groot of klein ‘wil-doen-dinge’ dit is nie. Droom, beplan en doen iets daaromtrent en begin met doen-dinge binne jou vermoë.
“Daarna kan jy uitdagings begin aanpak as jy so voel en jy sal verstom wees hoeveel genot, trots en vrede jy sal ervaar deur te kan sê ek was daar en ek het dit gedoen. Dit is belangrik dat jy dit vir jouself doen, al was daar ook soms ander betrokke.
“Maar nou kom ek by my storie: Ek is Gerhard van Eeden senior (67) of sommer net Bokkie, die oudste ou op die foto’s. Die jongste in die groep is my seun, Gerhard (33) en Herbie Keller (63) is die ou met die baie hare.
“Hy het kom kuier en is vanaf Switserland. Ons ken mekaar reeds 40 jaar. Hy is ’n kranige motorfietsryer in sy tuisland. Die motorfietstoer was ook op sy en Gerhard se lys.
“Wel, dis ons drie. Wat ek wil sê is, hierdie motorfietstoerdroom was op my ‘bucket list’ en is afgemerk. Leef jou drome. Ouderdom was nie ’n verskoning waarom ek nie ’n ‘bucketlist’ kon hê nie. Ons drie manne het met motorfietse vanaf George na die Kaap getoer, grondpad langs, toe vanaf die Kaap op Weskus toe tot by Lambertsbaai, meestal grondpad. Toe weer terug na Robertson, Route 62, Swartbergpas, dan na Uniondale deur die berge na Knysna en terug na George, sowat 3 000km en een 500km grondpad.
“Wat ’n voorreg was dit om met jou seun en vriend dit te kon doen en al die mooi mense wat op ons reis so vriendelik met ons was. Wat ’n ‘bucket list’ was die nie!
“Oud en jonk, maak vir jou ’n ‘bucket list’.”
