Hoërskool Jeugland en Hoërskool Kemptonpark is beide verheug oor hul matrieks van 2017 se uitslae.
Hoërskool Jeugland spog met ’n slaagsyfer van 98.8%, wat een persent meer is as in 2016. Meer as helfte van dié leerders het universiteitsvrystelling gekry. Die skool het altesaam 143 vakonderskeidings.
Skoolhoof dr David Morris is baie trots op die Jeugies se harde werk. Volgens hom was deurlopend werk die wenresep.
Hy is veral trots op Petra Coetzer, dié skool se topstudent, en haar nege onderskeidings. Adelin Francis, Nerine Luies en Ilse Wepener is verheug oor hul sewe onderskeidings en Danielle de Wet oor haar ses.
Net onder haar is Anri Beukes en Bardeen Walters wat met vyf onderskeidings weggestap het.
Hoërskool Kemptonpark se skoolhoof Roelof Burger is ook in sy noppies oor sy skool se puik uitslae. Die 265 matrieks het altesaam 320 onderskeidings bymekaar gemaak en ‘n slaagsyfer van 97.4% behaal.
Hierdie hardwerkende Kempies het ook gesorg vir ’n matriekvrystelling van 66%, die hoogste nog in dié hoërskool se geskiedenis.

Een Kempie wat die vrugte van haar harde werk gepluk het, is Lieze-Mari van Tonder wat nege onderskeidings op haar kerfstok het. Xander Terblanche, Dihan Keun en tweeling Tiaan en Philip Haussamer is gelukkig oor hul agt onderskeidings elk. So ook Charné Killian, Carla Laning en Rianca Fouche oor hul sewe.
Volgens Burger is dié uitslae te danke aan harde werk van dag een af. “Jy kan nie net voor die eksamen begin leer nie. Dit is nie ’n maklike pad nie, maar met harde werk sal dit ’n lekker pad wees.”

Ongelukkig kon al die matrieks nie hul droom-punte behaal nie. Volgens Morris gaan Jeugland se harte uit na hul twee matrieks wat nie geslaag het nie, maar 2018 is nóg ’n jaar.
Vir die ander wat nie tevrede is met hul simbole nie, raai dié skoolhoof aan dat hulle óf herskryf of hul vraestelle laat hermerk.
Burger het ook raad vir hierdie kandidate: “Dit is sleg wanneer leerders nie die punte behaal het wat hulle graag wou nie, maar ongelukkig kry ’n mens nie altyd waarvoor jy droom nie. As hulle hul beste gegee het, kan hul gerus tevrede met die uitslae wees.”

