Honderde haasbekkies regoor Kempton Park het Woensdag die grootskool aangedurf. Sommiges het krokodiltrane gehuil, maar meeste was opgewonde om te begin leer lees, skryf en natuurlik, pouse te hou.
Kempton EXPRESS het by van dié klassies, wat in 2029 in matriek sal wees, gaan inloer.
Laerskool Bredell het op die eerste dag van skool sowat 60 nuwe graad eentjies verwelkom. Volgens skoolhoof Roaan Human het hul eerste dag seepglad verloop. Dié skool het tans 400 leerlinge, maar Human sê dat daar wel plek vir nog is.
“Daar is altyd plek vir een of twee kinders, maar aangesien hierdie ’n Afrikaanse skool is, kan ons net kinders aanvaar wat in Afrikaans onderrig wil ontvang.”
Graad een juffrou Rochelle de Beer sê dat die eerste dag se grootste uitdaging altyd die ouers se trane is.
“My raad is om vinnig ’n foto te neem en weg te hardloop,” het sy geterg.
Twee van dié juffrou se leerlinge, Channing Andrews (7) en Claydean van Wyk (7), sê dat hulle glad nie bang was om die grootskool aan te durf nie. Channing droom daarvan om eendag ’n sjef te word en Claydean wil graag ’n dokter word.

Dit was nie net die eerste dag van skool vir dié graad eentjies nie. Graad een juffrou Johanè Griessel het vir die eerste keer begin skoolgee. Sy is baie opgewonde oor haar loopbaan en sien uit om saam met die kinders te werk.
By Laerskool Kreft is ongeveer 150 graad eens vir die eerste keer in hul klaskamers verwelkom. Hier, sê skoolhoof Johann Smuts, het hy nie een ouer of kind sien huil nie. Al is die skool nie vol nie is daar slegs plek vir nog ’n paar kinders.
Smuts se hoop vir die lede van die klas van 2029 is dat hulle dit sal geniet om te leer.

“Ons gaan ook baie aandag skenk aan lees. Ons gaan ’n periode per dag bysit waarin ons klem sal lê om met begrip te lees.”
Een van die onderwysers wat die taak gaan aanpak, is juffrou Noma Sithole, wat al 10 jaar vir graad eens klas gee. Sy is lief vir haar beroep, omdat die kinders opreg is, hulle haar jonk hou en “they tell it like it is”.
Twee nuwe maatjies in haar klas is Lwandle Nyathi (6) en Chantelle Philemon (6). Die twee sal sommer gou vriende word, aangesien Lwandle eendag ’n dokter wil word en Chantelle ’n fisioloog.




