Local newsNews

Egpaar van Birchleigh stap al 60 jaar saam

Met kultuur sterk in hulle bloed, was hulle deur die jare by verskeie organisasies betrokke.

Sestig jaar gelede het ‘n jong egpaar, Pieter (82) en Rina (81) Jordaan, op 28 Desember 1957 met blye verwagting saam die toekoms ingestap toe hulle deur wyle ds Nico de Lange, leraar van die NG-kerk Villieria in Pretoria in die huwelik bevestig is.

Hierdie egband is stewig gelê en hulle kon laasjaar saam met hul kinders, kleinkinders en agterkleinkinders dié besonderse herdenking vier.

Die eerste vyf jaar van hul huwelik was hul Pretorianers waar Pieter onderwyser by Hoërskool Wonderboom was. Einde 1962 het hy egter die klaskamer vir ‘n pos as onderbestuurder van die ATKV vakansie-oord in Hartenbos verruil.

Lees ook:

• Couple celebrates their 60th wedding anniversary

• Date night for ‘power couple’ after 57 years

Kultuurwerk was sterk in sy bloed en in 1965 het hulle na die destydse Transvaal teruggekeer, waar Pieter die pos as sekretaris van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele opgeneem het.

Ongelukkig het die meeste kultuurorganisasies beperkte fondse en Pieter moes ter wille van sy gesin ‘n heenkome in die privaatsektor vind. In 1968 het hy die pos as hoofrekenmeerster by die ou Overvaal Oorde aanvaar, waar hy in 1994 na 27 jaar as direkteur afgetree.

Die Jordaangesin, met hul drie kinders, het hulle in 1965 in Birchleigh gevestig, waar Pieter en Rina, 53 jaar later, nog steeds woon. Met die verloop van die jare het die gesin met nog twee kinders gegroei en vandag is Pieter en Rina die trotse ouers van vyf kinders, 12 kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Pieter en Rina Jordaan teken die huweliksregister op hul troudag, terwyl wyle ds Nico de Lange toekyk.

As gemeenskapgerigtes was beide al die jare by vele gemeenskapsaktiwiteite betrokke. In hul gemeente was Pieter diaken en later ouderling, asook kategeet. Pieter het die plaaslike onderwys op die bestuursrade van die Hoërskole Jeugland en Birchleigh en Laerskool Birchleigh gedien.

As stigter van die plaaslike Hoogland Voortrekkerkommando was hy die eerste kommandant of kommandoleier soos dit vandag genoem word. Hy was ook voorsitter van beide die Junior- en Senior Rapportryerkorpse in Kempton Park.

Rina was naas moeder en opvoeder ook verskeie jare by hul gemeente betrokke, onder meer as leier van die NG Gemeente Birchleigh se sendingkinderkrans en Bybelstudiegroep, asook lid van die sendinggroep van die gemeente.

Sy was verskeie jare offisier en veldkornet van die Drawwertjies by Hoogland Voortrekkerkommando.

Rina en Pieter op hul troudag in 1957.

Met al die gemeenskapsbetrokkenheid was hulle inderwaarheid volbloed-inwoners van die Birchleigh-gemeenskap. Maar soos die jare aangestap het, het hulle minder aktief geraak, maar is nog steeds volwaardige inwoners van Birchleigh.

Met terugskouing vir die 60 jaar van hulle huwelik, kan Pieter en Rina nie andes as om met groot dankbaarheid te kan bely: “God het met ons ‘n pad gestap wat nie vir baie huwelike beskore is nie. Ons kon Sy genade in Christus Jesus elke dag ervaar, ons gee aan Hom al die eer vir die geseënde jare!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button