KYK: Groot, groter, Sais se skorsies!
Die massiewe skorsies het almal tussen een en drie kilogram geweeg.
Plaaslike groenduim Sais Smith (77) groei yslike pampoene in sy tuin.
Dié voormalige spoorwegman maak al vir 48 jaar in Birchleigh tuin, maar het nog nooit groente van sulke groottes gesien nie. Met die grootste pampoen, of te wel skorsie, wat 3kg weeg, moet Sais net pasop of dié groen gevaar verander dalk in ’n koets.
Familie van dié groot-boet-pampoen weeg almal tussen een en drie kilogram.
Sais se vrou, Nellie (74), het laasjaar sommer saad van ’n plaaslike supermark se pampoen geoes. Min het die twee geweet dat sulke massiewe skorsies gesig gaan wys.
“Dit is die eerste jaar wat die groente so groot is,” het hulle gesê.
Volgens Silence Chiloane van die Suid-Afrikaanse Landbou-navorsingsraad is daar verskeie moontlikhede waarom Sais se oes juis vanjaar so groot was.
“Dit kan aan die grond, bemesting, baie reën of selfs die pampoen-familie waarvan die skorsie deel is, te danke wees,” het hy gesê.
En Sais se geheim?
“Daar is nie eintlik een nie. Goeie kompos, water, geduld en liefde.”

Sy liefde vir tuinmaak het Sais by sy pa geërf. Hierdie liefde is duidelik te sien in die groot tuin van Sederlaan 26. Voor word gaste deur ’n blommetuin, waarin pienk en pers dahlias pronk, gegroet. Agter, amper verskuild, is groente-tonneltjies wat met rye tamatieplantjies en selfs ’n wingerdstok spog. ’n Paar tree hiervandaan is rye skorsies, pampoene en meterlange mielies. Al dié produkte word of self in die kombuis gebruik of vir vriende weggegee.
Soveel moeite soos wat Sais in sy tuin sit, soveel genot put hy daaruit.
“Om iets te eet wat uit jou eie groentetuin kom is baie lekkerder as iets wat van die winkel afkom. Jy kan sommer die verskil proe. Dit is vars uit die grond.”
Juis hierom raai Sais ook vir ander aan om hul eie groentetuine te begin. Hy wil ook graag vir dié mense wat bietjie meer kennis as hy het, vra: “Waarom dink julle is my pampoene so yslik groot?”
