Geliefde oud-Kempie-juffrou skielik dood
Die voormalige rekeningkunde-onderwyser was ook ’n hokkie-afrigter en bekend vir haar borrelende persoonlikheid.
Marlene Horn (69), ’n voormalige rekeningkunde-onderwyser by Hoërskool Kempton Park, is op 28 Januarie dood.
Marlene en haar man Gerhardt was met vakansie in George, waar hulle by hul kinders gekuier het. Die twee het die Saterdag nog ’n potjie golf gespeel, maar teen die volgende oggend het Marlene siek gevoel.
Sy het in ’n winkel flou geword, waarna ’n ambulans ontbied is en sy in intensiewe sorg opgeneem is. Hier is ’n bloedklont deur haar hart en longe.
Oorspronklik van Worcester, het Marlene die Kaap vir Kempton Park verruil waar sy in 1977 by die Kempies as tikonderwyser aangesluit het.
Sy was tot 2009 aan die skool verbonde as departementshoof handelsvakke.
Volgens Hoërskool Kempton Park se Liz de la Hunt het Marlene hiér nuwe betekenis gegee aan die spreekwoord klein botteltjie, groot gif. “Haar klein lyfie het ’n groot hart en passie vir ander gehuisves.”

Vir mede-Kempie onderwyser Doortjie Bosman was Marlene soos ’n suster.
“Sy was ’n briljante rekeningkunde-juffrou, ’n fantastiese hokkie-afrigter en die beste vriendin. Ek sal haar borrelende persoonlikheid mis.”
Marlene het ’n bydra tot Kempies gelewer wat dié skool vandag nog bybly.
“As rekeningkunde-onderwyser het haar leerlinge gou besef dat sy nie onderskat moet word omdat sy klein van persoon was nie,” voeg Liz by.
“Sy het menige pouse met vingers wit van die bordkryt in die personeelkamer ingestap omdat sy haar hele bord volgeskryf het om ‘n sekere oefening of begrip te verduidelik. Sy het jaarliks die toekenning gekry vir die beste rekeningkunde-uitslae in die distrik.”
Die toegewyde juffrou sal ook onthou word vir haar prestasies buite die klaskamer en op die hokkieveld.
“Sy was vir baie jare die afrigter van die skool se eerste span en het vyf keer die Direkteurstrofee gewen, ’n prestasie wat niemand haar nog kon nadoen nie. Elke hokkiespeler sal haar onthou vir die skril stemmetjie en die gille van aanmoediging langs die veld tydens wedstryde,” sê Liz.
Marlene se dogter, Gerda, onthou dat haar ma drie verskillende rolle in haar lewe gespeel het.
“Sy was my ‘Kwaaitjie kabouter’-onderwyser, aangesien sy so kort was en ek so lank. As my hokkie-afrigter het sy by my ’n liefde vir hokkie gekweek. En dan, natuurlik, was sy ons geliefde moeder by die huis.”
Marlene se seun, Paul, stem saam dat hul ma presies dít by die huis was.
“As dit huiswerktyd was, het daardie onderwyserkant van haar soms ingetree, maar sy was meer ’n ma as ’n juffrou by die huis.”
Beide Gerda en Paul gaan hul ma mis. “Ek sal verlang na haar sprankelende glimlag en lyfie wat so op-en-af gehardloop het,” sê Paul.
“Ek gaan haar oproepe mis,” voeg Gerda by, “en haar absolute liefde en toewyding vir haar kinders en kleinkinders.”
Marlene laat haar man, twee kinders en vier kleinkinders agter.
’n Gedenkdiens sal op 9 Februarie om 11vm by NG Kerk Bonaero Park gehou word. Die familie verwelkom enigiemand wat dit wil woon.
Liz skryf: “Die Kempies onthou haar as iemand wat alles wat sy gedoen het, met oorgawe gedoen het. As kollega sal Marlene onthou word vir haar vriendelikheid, passie, omgee en meelewendheid.
“Sy het altyd drukkies uitgedeel as sy gesien het iemand kry swaar. Haar sin vir humor het menige skooldag opgevrolik.
“Marlene het diep spore getrap waar sy ookal gegaan het. Kempies het met groot hartseer van haar afsterwe verneem. Ons innige simpatie met haar naasbestaandes.”
