Sowat 60 kleuters het hul nuwe skool, Laerskool Impala Kultuur Kleuterskool, vir die eerste keer aangedurf.
Hier, reg oorkant die ‘groot-skool’, sal die woelige maatjies meer leer oor musiek, kuns en die Voortrekkers. Dit is natuurlik net as hulle wil, sê skoolhoof Augusta Gouws.
“Kinders hoef nie aan kultuur deel te neem nie, maar ons sal ’n omgewing skep waar hulle die geleentheid kry.”
Die kinders, almal tussen drie en vier jaar oud, is in drie klasse verdeel.
Die skool spog met drie onderwysers, twee student-onderwysers, twee staf-lede en een sekretaresse.

Die skool se opening is amptelik Maandagoggend gevier met koek, koffie en tee. Terwyl mammas en pappas die lekkernye geniet het, het hul kinders op die klimrame baljaar. Slegs een seuntjie het gehuil, maar gou weer geglimlag toe hy sy juffrou sien.
Die trotse skoolhoof se droom vir haar leerders is ’n blink toekoms.
“Mag hulle hulself elke dag gate uit geniet en sommer baie slim word.”
