Con Amore is ’n spesiale plek vir spesiale kinders. Dié skool in Esther Park maak voorsiening vir leerders met ernstige intellektuele gestremdhede en leerbehoeftes van regoor die Oos-Rand.
Aan die stuur van dié skool sit splinternuwe skoolhoof, Pieré du Preez (58).
Vir ’n beter skoolhoof kon Con Amore, wat “met liefde” in Italiaans beteken, nie vra nie. Du Preez beloof om juis dit te doen; met liefde en geduld die skool te bestuur.
“Ek het ’n liefde vir Con Amore se kinders en ’n passie vir hierdie skool. Ek glo onderwys is ’n roeping,” sê hy.
Hierdie oud-Potchefstroomstudent het sy onderwysberoep 35 jaar terug by Laerskool Brentwood Park in Benoni begin. In 1990 is hy as adjunkhoof van Con Amore aangestel.
Verlede jaar November het hy dié pos vir die een van skoolhoof verruil.
Hy glo dat dit sy ervaring by die skool is wat hom die beste persoon vir die werk maak. Dit, en sy geduld en liefde vir die skool se leerders.
“My hoop is dat elke kind hier as ’n individu raakgesien sal word, sodat hulle hul potensiaal ten volle sal ontwikkel.”
Die skool het tans 351 leerders. Sommige van hierde leerders reis elke dag van sover as Germiston, Edenvale en Benoni.
“Ons het 14 skoolbusse op die pad; dit is ons skool se lewensaar.”
“Bevondsing hiervoor is soms ’n uitdaging,” sê Du Preez.
“Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en hoop om in die toekoms steeds hande met hulle te vat.”
