Oud-landdros vier sy 90ste verjaarsdag
'Jongman' Andries sê Kempton Park was meestal plase en hy het elke dag werk toe gestap.
Andries du Plessis van Nimrod Park het op 4 Mei sy 90ste verjaarsdag gevier. Hiérdie mylpaal, sê die voormalige landdros, is aan streng ouers en sterk familiewaardes te danke.
Dit, en hy het tot onlangs nog drie keer ‘n week die gimnasium besoek.
Sy raad aan die jeug van Kempton Park om ook dié ouderdom te bereik? “Geen drugs,” sê hy, sy blou oë tergend.
Op die koffietafel langs hom lê ’n hopie Time-tydskrifte. Sy wêreldkennis stop egter nie hier nie. Hy is lief vir reis. ’n Foto van hom en sy vrou Sue (83) voor Mount Fuji op Japan se Honshu-eiland getuig hiervan.
Andries en Sue is al 61 jaar getroud. Die egpaar het destyds by familievriende ontmoet.
“Hy was ’n vreeslike flirt,” lag Sue. Andries meen dat hy eintlik net baie skaam was. Saam het hulle ’n seun en ’n dogter, vier kleinkinders en drie agterkleinkinders. Hul ruim sitkamer, wat vol familiefoto’s is, is ’n tentoonstelling van trots.
Andries, wat in Dordrecht in die Oos-Kaap gebore is, was een van ses kinders. Van dié is drie reeds oorlede. Sy pa, ook Andries, was ’n meulenaar en sy ma, Helena, ’n huisvrou.

“In daardie tyd was kinders nog kinders,” onthou hy. “Jou ouers het jou nie gevra om iets te doen nie, hulle het jou gesê.”
Deur die Departement van Justisie is hy in 1967 na Kempton Park verplaas. Hy was vir jare ’n aanklaer in Johannesburg en daarna ’n landdros in Kempton Park.
“Ek het vir sowat 30 jaar elke oggend werk toe gestap, op die kas geklim en na almal se stories geluister.”
Volgens hom het Kempton Park baie verander sedert daardie dae. “Hier waar ons nou woon was net plaas. Dit was vir my goed om te sien die dorp het nie stilgestaan nie.”
Terwyl Andries glimlag vir ’n foto, spot hy dat die kamera se lens dalk gaan breek.
“Ek het self op my dag foto’s geneem,” sê hy beskeie. Toe haal hy ’n wit-en-swart-foto van ’n blonde skoonheidskoningin uit. “Voormalige Mej Wêreld Anneline Kriel toe sy net gekroon is as Mej Suid-Afrika in 1975.”
Iets sê vir ons dat Andries nog vele sulke stories het. En dat, selfs op 90, hy nie gou met sy avonture gaan ophou nie.
