Local newsNews

Kempton se platinumegpaar vier 70 jaar saam

Saam het hulle drie kinders, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders. En hulle het nog nooit régtig baklei nie.

Ongeveer 25 567 dae, oftewel 70 jaar. Dít is hoe lank Bettie (92) en Gideon (93) Els op 24 Mei getroud sal wees.

Dié Glen Marais-egpaar vier miskien hul platinum huweliksherdenking, 613 608 ure van getroud wees, maar is nog net so lief vir mekaar soos toe hulle in 1948 in Alicedale in die Oos-Kaap die ja-woord gesê het.

“Dit was ’n groot avontuur toe ek die jong dame vir die eerste keer gesien het,” onthou Gideon op ’n ysige oggend in die twee se ruim huis in 7de Laan. Hy is uitgevat teen die koue in ’n netjiese geruite baadjie en blou trui. Op sy skoot sit Mienkie, die twee se Chihuahua, óók in ’n blou truitjie.

Langs hom onthou Bettie ook die dag wat sy haar Gideon ontmoet het, haar oë blinkend agter ’n silwerraam bril.

“In daai dae was daar nie iemand om jou rok reg te maak vir die foto nie, jy’t maar gestaan,” sê Bettie (92) oor haar troufoto wat in die paartjie se huis in Glen Marais hang.

“Ek het wonderlike herinneringe wat in my gedagtes bly, asof dit nog vandag was.”

Hierdie twee, oorspronklik van die Oos-Kaap, het feitlik in dieselfde straat grootgeword. Tóg het hulle nooit ontmoet nie. Dit was eers jare later toe Gideon vir ’n vriend in Alicedale gaan kuier het, wat hy sy “mooi nooi” gesien het.

Volgens Bettie het dié kêrel van Port Elizabeth ook perfek in haar prentjie gepas en die twee is toe getroud. In 1966 ontvang Gideon werk as spoorweginstrukteur by ’n kollege in Kempton Park. ’n Jaar later het Bettie by hom aangesluit.

Vandag bly hulle steeds hier. Die enigste verskil is dat daar drie kinders, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders tot hul familieboom toegevoeg is. Dít, sê Gideon, is net genade.

“Dit is ’n baie groot voorreg dat ons almal nog in die kringetjie is. Almal woon in Kempton Park. Ons braai saam en leef lekker saam.”

Gideon sê dit is te danke aan Bettie dat hul gesin so geheg is aan mekaar.

“Sy is ’n goeie versorger, op haar merk. Ons het nooit rykdom gehad nie, maar ons het altyd genoeg gehad om van te leef en ons het goed geleef.”

Vir Bettie is dié pa van haar kinders haar grootste steunpilaar.

“Hy’s net wonderlik in elke opsig. Hy verstaan my en hy is daar as ek hom nodig het vir raad, hulp, bystand of vertroosting.” Beide sê dat hulle alle eer aan die Here gee dat hulle reeds so lank getroud is.

Met trots sê Gideon dat, in die 70 jaar van hul huwelik, hulle nog nooit ’n ernstige huweliksrusie gehad het nie.

“’n Mens verskil, maar ons het nog nooit kwaad gaan slaap nie.” Hiermee bevestig hy dat hulle werklik Kempton Park se platinumpaartjie is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button