Skenk hoop hierdie winter
Sit jy met te veel warm klere in jou kas? Skenk dit vir die wat dit nodig het.
Is jou kas oorlaai met wintersklere wat net nie meer pas nie? Miskien het jy snoesige handskoene en serpe om te spaar?
Skenk dit dan liefs vir die Winterhoopveldtog wat vanjaar in Junie plaasvind.
Die landswye projek sorg al vir 18 jaar dat minderbevoorregde gesinne gedurende winter kan warm bly. Dit word deur MES, PEN, Isinkwa Setheku en Torings van Hoop, in samewerking met verskeie kerke en welsynsorganisasies, aangebied.
“Die koue wintermaande in ons land bly besonders uitdagend vir arm gesinne en die hawelose persoon op straat,” sê ds Alan Childs, hoof uitvoerende beampte van MES.
Die verskeie organisasies hoop dus om wintersklere, komberse en nie-bederfbare voedsel in te samel. Hiervoor, sê Childs, is daar veral ’n groot behoefte.
“Met die Winterhoopveldtog probeer ons om hierdie nood in ons land op ’n praktiese manier aan te spreek.” Gemeenskapslede word ook aangemoedig om by skuilingsinisiatiewe betrokke te raak.
Laasjaar het die vedtog landswyd meer as 4 000 komberse, 1 500 musse en 5 000 inkopiesakke met nie-bederfbare kos ingesamel. Skuiling vir bykans 2 709 hulpbehoewendes is ook verskaf.
“Namens al die deelnemende welsynsorganisasies en kerke wil ek u graag aanmoedig om hierdie winter ons hande te help sterk maak deur by die verligting van nood betrokke te raak. Saam kan ons hoop en omgee ’n werklikheid maak,” het Childs bygevoeg.
Kontantdonasies is ook welkom en 18 A belastingvoordeelsertifikate kan uitgereik word soos benodig.
Die Winterhoopbankrekening se besonderhede is as volg:
Winterhoop ABSA, 632005
Spaarrekening
906 892 5251
Vir meer inligting oor die spesifieke behoeftes van die veldtog en die verskeie aflaaipunte, besoek winterhoop.org, gaan na die Facebookblad: Winterhoop of skakel Aloma Swanepoel by 011 725 0001/winterhoop@mes.org.za
