Kempton eerste om met AfriForum se herwinningsprojek af te skop
Die projek word in samewerking met MES Kempton Park van stapel gestuur.
AfriForum se Kempton Park-tak het op 29 Mei as deel van dié organisasie se Ons Dorp-veldtog ’n langtermynherwinningsprojek van stapel gestuur.
Die projek word in samewerking met MES (Mould, Empower and Serve), ’n nie-winsgewende organisasie wat op werkskepping vir hawelose mense in Kempton Park fokus, geloods.
Die projek gaan vir die volgende 12 maande in omheinde gemeenskappe (gated communities) en by plaaslike skole in Kempton Park uitgerol word.
Die plaaslike AfriForum-tak het reeds in 2017 die behoefte aan ’n herwinningsprojek in Kempton Park geïdentifiseer. Ná verskeie vergaderings met sowel MES as die voorsitters van die onderskeie omheinde gemeenskappe, is die eerste herwinningseenhede in Van Riebeeck Estate geplaas.

Verdere eenhede gaan op ’n maandelikse basis in ander omheinde gemeenskappe, asook by skole geplaas word. Die MES-bestuur gaan weekliks vullis verwyder en die vergoeding wat vir die herwinning ontvang word, gebruik om werk vir hawelose mense in Kempton Park te skep.
“Die herwinningseenhede is dromme wat spesiaal ontwerp is om esteties en omgewingsvriendelik te wees. Dié projek is uniek in ons gebied en ons hoop om dit ook na ander dorpe aan die Oos-Rand uit te brei,” se Gerald Britt, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Kempton Park-tak.
“Die projek speel nie bloot ’n belangrike rol in herwinning en die bevordering van ’n skoon omgewing nie. maar die werkskepping wat hopelik daaruit gaan voortspruit sal ook die misdaadvlak help beperk,” voeg Aloma Swanepoel, woordvoerder van MES, by.
“Die projek is ’n uitstekende voorbeeld van gemeenskapslede en organisasies wat proaktief optree om hul dorpe skoner en veiliger te maak,” glo Marie Naudé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.
