Local newsNews

Plaaslike pastoor groet na 32 jaar in die bediening

Hy is in Argentinië gebore, praat vyf tale, was ’n vlugkelner en toe ’n pastoor. Rick Botha se lewe was allesbehalwe vervelig.

Sowat 65 jaar gelede, op ’n skaapplaas in Argentinië in Suid-Amerika, het ’n sewejarige Afrikaanse seuntjie ’n stem vanuit ’n bos gehoor wat hom tot die bediening geroep het.

“Nee my kind, jy het jou seker verbeel, want gereformeerde mense aanvaar nie sulke dinge nie,” het Rick Botha se ma, wie se ouers tydens die Anglo-Boereoorlog Argentinië toe getrek het, vir hom gesê.

Maar ’n pastoor wou en het Botha geword. Na 32 jaar in die bediening, waarvan hy 11 jaar pastoor by die Volle Evangelie Kerk in Aston Manor was, hang Botha nou sy hoed met ’n swaar hart op.

“Dit is emosioneel,” vertel die 72-jarige pastoor aan Express in sy kerk in Glenavonstraat.

“Om als nou te los is nie maklik nie, maar ek gaan ’n boek oor my lewe skryf.”

Dié boek is gewaarborg om ’n bladsy-draaier te wees, want Botha se lewe tot dusver was alles behalwe vervelig.

Na skool het hy in Argentinië gaan studeer om ’n dominee te word. Dít, in Spaans.

Pastoor Rick Botha (72) sê dit gaan nie maklik wees om af te tree nie, maar daar lê nog vele avonture voor. Hier staan hy buite die Volle Evangelie Kerk in Aston Manor saam met sy vrou Annatjie (64). Hulle het mekaar in die kerk ontmoet en het ook hier getrou.

“Ek praat Spaans, Italiaans, Portugeus en Engels, maar Afrikaans bly my lieflingtaal. Ek het altyd gesê ek sal eendag terugkeer Suid-Afrika toe.”

Na drie jaar het hy sy studies opsy gesit, met erfgeld Europa vir drie maande platgetoer en toe op ’n vliegtuig na Johannesburg geklim.

Hy was terug in die land waarna hy altyd gehunker het, maar hy was steeds nie op die kansel nie.

“Ek het eers vir nege jaar as vlugkelner vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens gewerk,” verduidelik hy. Sy bestemmings het New York, Hong Kong, Australië en vele meer ingesluit.

Na ’n kerkdiens in 1984 het Botha besluit om sy ware roeping te vervul. Hy het sy studies aan die Berea Teologiese Kollege in Centurion voltooi en in 1986 by sy eerste gemeente in Van Riebeeck Park begin.

Intussen was Botha al pastoor in Bloemfontein in die Vrystaat, Kokstad in KwaZulu-Natal en Tzaneen in Limpopo.

Maar ons glo dit sal die plaaslike Volle Evangelie Kerk wees wat hy die meeste mis. “Hierdie is ’n gemeente van liefde. Daarop is ek baie trots.”

Botha het ook sy huidige vrou Annatjie (64) in die kerk ontmoet en daar met haar getrou. Sy eerste vrou is in 2012 aan kanker dood.

“My eerste vrou was vriende met Annatjie en het altyd gesê as sy doodgaan, moet ek met Annatjie trou, want sy sal mooi na my kyk.”

Vandag woon die egpaar in Pomona. Albei het twee kinders uit hul vorige huwelike en het altesaam agt kleinkinders.

Wanneer Botha hulp nodig het, blaai hy na Psalm 23 in die Bybel, want hy weet, tydens al sy avonture en uitdagings was die Here nog altyd sy herder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button