Local newsNews

Top-Jeugie sprei haar vlerke in Potch

“Ek wil aan soveel as moontlik aktiwiteite op universiteit deelneem,” sê oud-Jeugie wat nou rekenaar-en elektroniese ïngenieurswese in Potchefstroom studeer.

Maryna Coetzer (18), Hoërskool Jeugland se toppresteerder in 2019 se matriekeksamen met nege onderskeidings agter haar naam, pak 2020 aan in rekenaar- en elektroniese ingenieurswese.

Dié Van Riebeeck Parker vertel dat haar kursus by die Noord-Wes Universiteit Potchefstroom-kampus vier jaar duur.

“Ek is in Huis Republiek-dameskoshuis en die hulpvaardigheid van die mense is indrukwekkend. Sowel as al die verskillende kultuur- en sportgeleenthede waarby jy betrokke kan raak en al die komitees waarop jy kan dien.”

Maryna beoog om met haar ingenieursgraad stelsels te ontwerp wat mense se lewens sal verbeter. “Ek is baie tegnies aangelê en wou nog altyd in ’n tegniese veld werk.”

Haar gunstellingvakke was Alpha wiskunde, fisiese wetenskappe en musiek. “Ek het sang geneem by wonderlike juffrou Elana Conradie. My gunstelingstuk was Lascia ch’io pianga deur Händel.”

Oor haar take, leer- en huiswerk vertel Maryna: “Ek het huiswerk altyd so gou as moontlik probeer doen, anders sou ek daarvan vergeet.

“Ek het gewoonlik naweke aan my take gewerk. Ek het baie navorsing oor die onderwerp gedoen en soos wat ek inligting versamel het, het ek my taak geskryf.”

Haar leermetode het behels dat sy die werk meer as een keer geleer het, omdat herhaling haar gehelp het om te onthou. “Ek skryf altyd wanneer ek leer, anders verloor ek konsentrasie.”

Haar eksamenwenk is: “Werk ou vraestelle uit. Dit help regtig baie, nie net omdat dit belangrik is om jou werk te ken nie, maar ook om te weet hoe om ’n vraestel in te vul.”

In Graad 11 het sy ’n internasionale amateur-radiokonferensie bygewoon en het ’n klas-A amateur radiolisensie verwerf. Sy was ook vise-president van Jeugland se radioklub.

“In my vrye tyd draf ek en hou daarvan om te lees. Ek probeer nie op Sondae werk nie, sodat ek bietjie kan rus.”

In Potchefstroom vertel sy hoe lekker dit is om al die nuwe mense te ontmoet, al verlang sy baie na onderwysers en vriende wat baie vir haar beteken.

“Sonder hulle sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie. Ek sal definitief huis toe verlang, maar ek sien uit na nuwe geleenthede.”

Sy strewe daarna om dié geleenthede met altwee hande aan te gryp toe sy sê: “Ek wil aan soveel as moontlik aktiwiteite op universiteit deelneem. Ek beplan om aan atletiek en sokker deel te neem en ek het reeds by die ingenieurskoerant aangesluit. Ek neem ook deel aan die eerstejaarskonsert.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button