NewsSchools

Leerders kan wen met hul kennis van geskiedenis

Die wenskool sal R10 000 en 'n wisseltrofee ontvang

Stel jy belang in geskiedenis of het jy dit as vak op skool? Dan het die FAK die ideale geleentheid om jou kennis te toets en uit te brei.

Die FAK stel ’n Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade, ’n aanlyntoets vir leerders van graad 8 tot 12, bekend. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.

Leerders kan reeds van nou af vir hierdie geskiedenisolimpiade by olimpiade.fak.org.za inskryf. Die toets word in Augustus geskryf.

Dit gee die leerders kans om sekere bronne – soos afrikanergeskiedenis.co.za – deur te werk en hulle kennis te toets. Die bronne sal later bekendgemaak word.

Die geskiedenisolimpiade sal uit twee rondtes bestaan. Die eerste rondte behels ’n aanlynvraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeusevrae – 50 punte vir elke afdeling.

Afdeling 1, Afrikaanse taalgeskiedenis, sal vrae hê oor digters (bv wie het “Winternag” geskryf? Wie is die digter wat in die see geloop het?), die oorsprong van Afrikaans, die prestasies van Afrikaans (bv eerste gedig, eerste gedrukte boek, eerste Afrikaanse Bybelvertaling), Afrikaanse liedjies en Afrikaanse boeke.

Afdeling 2, Afrikanergeskiedenis, sal vrae insluit oor die VOC-tydperk, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog, Republiekwording, asook 1994 en daarna.

Afdeling 3, Westerse geskiedenis, sal die kennis toets oor ontdekkingsreisigers, ontdekkers, die Reformasie, oorloë en rewolusies en leiers.

Diegene wat deurdring na rondte 2 skryf ’n aanlynvraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring na rondte twee moet ’n kandidaat minstens 80% in rondte 1 behaal het.

Alle deelnemers ontvang ’n deelnemersertifikaat. Almal wat deurdring na die tweede rondte, ontvang ’n medalje sowel as ’n erkenningsertifikaat.

Pryse sal soos volg wees: Die algehele wenner ontvang R10 000; tweede prys R5 000 en derde prys R2 500. Die wenskool ontvang R10 000 en ’n FAK-Wisseltrofee vir geskiedenis.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die hoeveelheid leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie ontvang.

Alle navrae kan gerig word aan chrisna@fak.org.za

Also follow us on:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button