Local newsNews

Oud-Spoorwegpolisielede hou lekker reünie in Edleen

Uit die 337 lede wat genooi is, het ongeveer 250 vir die funksie by Laerskool Edleen opgedaag

Die swaar reën van Saterdag het nie pensioenarisse van die voormalige Suid-Afrikaanse Spoorweê (SAS) gekeer om ‘n reünie by Laerskool Edleen te vier nie.

Oud-lt kol en mede-organiseerder van die funksie Charles Slabbert het vertel hoe die geleentheid ’n reuse sukses was, aangesien 250 lede en hul gades teenwoordig was uit die 337 mense wat genooi is.

“Billy Harris, Hantie Harris, Gert Aucamp, Cheryl Aucamp, Anita van Zyl, Melissa Slabbert en myself het die byeenkoms sedert September 2019 beplan. Hierdie byeenkoms was bloot net om oud-kollegas bymekaar te kry en lekker te gesels,” het hy gesê.

Daar is onder meer geskenke uitgedeel en musiek gemaak tot laat terwyl die spitbraai aan die gang was.

Vir Slabbert was die hoogtepunt van die funksie toe Barney van der Walt ’n merkstok, wat in 1950 op die paradegrond gebruik was, aan Johan Lotriet oorhandig het.

Express het met twee oud-lede van die destydse Spoorwegpolisie oor dié se aanneming deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens gesels. Voormalige genl maj Hannes Swart en genl maj Nick O’Kelly het meer oor die ou dae gesels.

Dié twee het vertel dat hulle sommige van die oud-Spoorwegpolisiemanne wat daar was laas in die 1970’s gesien het. O’Kelly het verduidelik dat die Spoorwegpolisie in 1934 gestig is en op 1 Oktober 1986 deur die SAPD aangeneem is.

Oud-Spoorwegpolisielede was Saterdag by Laerskool Edleen vir hul reünie teenwoordig ten spyte van die swaar reën.

“Die Spoorwegpolisie was ’n outonome polisiediens wat spesifiek omgesien het na die belange van die spoorweë, lughawes, seehawes en pyplyne, wat destyds ook in Namibië gefunksioneer het,” het O’Kelly gesê.

Toe daar gevra is of die aanneming van die Spoorwegpolisie deur die polisie ’n wins of verlies was, het albei gestem dat dit ’n positiewe skuif was.

Swart en O’Kelly meen dat indien die polisie nie die Spoorwegpolisie opgeneem het nie, dié polisiediens mettertyd finansiëel sou vashaak. O’Kelly het uitgebrei dat die polisie finansiëel aansienlike ingryping gebied het en dat beter individuele bevorderingsgeleenthede in dié diens beskikbaar was.

“Dit was destyds nie ekonomies om twee onafhanklike polisiedienste in ’n land soos Suid-Afrika te onderhou nie en ons was selfs geleenthede gebied om oorsee opleiding te ondergaan,” het Swart verduidelik.

O’Kelly het trots vertel hoe hulle baie gou ingeneem en deel geword het van die polisie en lede gebly het tot hul aftrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button