Afriforum Jeug installeer nuwe uilhuise
Danksy die uilhuisprojek en plastiekherwinningsprogramme is die uilpopulasie in Kempton Park besig om toe te neem.
Uile in Kempton Park het drie nuwe uilhuise danksy Afriforum Jeug.
Die uilhuise is op 30 Januarie op drie verskillende plekke in die stad opgerig, naamlik in De Wiekusweg in Van Riebeeck Park, ’n park in Birchleigh op die hoek van Mopani- en Asgaaistraat en nog een in Dagbreekstraat in Glen Marais.
Volgens René Reichel, voorsitter van Afriforum Jeug Kempton Park, is die uilhuisprojek sedert 2019 aan die gang toe uile naby Soutpansbergweg gewaar is. Sy sê die gevlekte ooruil is as ’n bedreigde spesie in Kempton Park geïdentifiseer en hulle het hande gevat om te help.
“Ons het vleilande om ons en het besef dat uilgetalle besig was om toe te neem. Ons het toe die inisiatief geneem om uilhuise te bou,” het Reichel gesê.
Saam met die twee uilhuise wat laasjaar in die vleiland langs Soutpansbergweg in Van Riebeeck Park opgesit is, staan die projek nou op vyf huise. Toe Reichel en drie Afriforum Jeug-lede met Express gesels het, is hulle gevra watter ondersteuning hulle in die gemeenskap verlang.
Afriforum Jeug-lid Reniqe Wallace het gesê: “Ons het ’n behoefte aan meer lede om by Afriforum en Afriforum Jeug in Kempton Park aan te sluit. Hoe meer lede daar is, hoe meer hulp kan ons op menige vlakke in ons gemeenskap bied.”
Iliné Snyman, ook ’n lid, het aandag op plastiekherwinning gevestig, wat ook bydra tot dié projek.
“Die uilhuise word uit 900 twee-liter plastiekbottels gemaak en hoe meer mense plastiek herwin, hoe meer sal dit bydra tot projekte soortgelyk aan die uilhuisprojek,” het Snyman gesê.
Afriforum het ook verskeie herwinningsprojekte regoor die land waar mense materiale kan herwin. Die oprig van ’n uilhuis sonder ’n paal kos R1 300, maar die wat pale benodig, kos R1 000 meer.
“Die fondse vir projekte soos dié kom vanaf die Afriforum Kempton Park-tak. Dit stel ons in staat om verskille soos dié in die gemeenskap te maak. Kempton Park kan op verskeie vlakke baat deur meer lede,” het Reichel verduidelik.
“Afriforum Jeug-lede is tussen die ouderdom van 18 en 35 jaar. Daar is geen lidmaatskapfooie nie. Lede kan gratis aan ons jeug-vlerk behoort. Laerskool- en hoërskoolleerders word ook by sommige uitreike betrek.”
Watter plekke kwalifiseer vir uilhuise? Reichel het vertel van die samewerking met Owl Rescue Centre, ’n rehabilitasie- en bewaringsorganisasie wat hulle help om ideale gebiede te identifiseer. Hulle maak ook staat op die publiek om hulle te laat weet waar uile gewaar is.
Danelle Murray van Owl Rescue Centre het vertel dat die uilhuise wat hulle oprig ’n veilige broeiplek is wat die aanteel van uile verbeter.
“Ons het ’n reuse aanwas in ons uilpopulasie behaal sedert die begin van die projek. Die uilhuise is ook ’n baken vir bewusmaking onder inwoners om mense te herinner dat uile ons omgewing deel en dat gif en pesbestryders om rotplae te behandel, negatiewe gevolge vir uile het,” het Murray gesê.
Sodra uile in ’n nes soos die uilhokke uitgebroei het, sal die uile heelwaarskynlik terugkeer deur die koers van hul lewens om verdere broeiseisoene daar deur te bring.

