Praat met jou speelgoed, sê top-matriek
Ulrika begin dié jaar met BSc Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.
Hoe kry mens 100% vir ‘n vraestel?
“Ek was altyd in die klas, het notas geneem en vrae gevra as ek iets nie verstaan het nie. Dit het ook gehelp om ander leerders te help en ou vraestelle te doen om die werk te bemeester.”
So gesels Jeugland se Ulrika Smith (18) oor haar 100% slaagsyfer in rekeningkunde in laasjaar se matriekeindeksamen. Dié slimkop het ook sewe ander onderskeidings verwerf en is tydens die burgemeester se akademiese toekenningsplegtigheid as die beste leerder in Ekurhuleni aangewys.
Haar persentasies in haar ander vakke was Afrikaans (91%), Engels (93%), wiskunde (91%), lewensorïentering (97%), ekonomie (92%), fisiese wetenskappe (90%) en Alpha wiskunde (95%).
Sy het ook toekennings ontvang as die beste presteerder in rekeningkunde en Engels eerste addisionele taal.
Ulrika gaan nou haar kop vir syfers op aktuariële wetenskappe toespits.
Dié uitblinker van Van Riebeeck Park vertel dat wiskunde, Alpha wiskunde en rekeningkunde haar gunstelingvakke was.
Sy sê hoewel sy ’n natuurlike aanleg vir syfers het, sou sy nie dié prestasie kon behaal het sonder harde werk nie. “Ek weet dat as ek nie ’n wonderlike onderwyser soos Juffrou Strachan gehad het nie, sou ek dit nie kon regkry nie.”
Ulrika begin dié jaar met BSc Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.
Hoe gaan sy presteer en ook vir haarself tyd maak?
“Ek beplan weekliks wat ek moet doen en maak seker dat ek ten minste ’n uur per dag vir ontspanning opsy sit.”
Gedurende haar eerste vier jaar van hoërskool het sy graag aan die Jeugie-extravaganza deelgeneem. Sy bieg dat sy nie sportief is nie, maar dit meer geniet om van die kantlyn af te ondersteun.
Oor haar leerresep, sê sy: “Ek begin so vroeg as moontlik en werk die hele jaar hard, want op die ou einde word dit makliker omdat dit net hersiening is. Ou vraestelle is die sleutel tot sukses in meeste vakke en verder is dit belangrik om te vra as jy agterkom dat jy met iets sukkel.
“As leerwerk vervelig raak, het ek gevind dat dit help om die werk vir iemand te verduidelik. Jy kan selfs vir jou speelgoed die werk verduidelik.”
Sy vertel die gebruik van kleur help ook om leer meer aanloklik te maak en dat sy maniere probeer vind om die dinge wat sy geniet, in haar leerwerk te inkorporeer.
Oor haar eerste indrukke van universiteit, sê sy dat die mense se vriendelikheid indrukwekkend is, sowel as die struktuur van die kampus.
“Tuks het pragtige geboue en ek is beïndruk met al die programme wat hulle inwerk om te versker dat hul studente suksesvol is.”
Oor 10 jaar sien sy haarself as ’n gekwalifiseerde aktuaris wat óf besig is met haar meesters óf om verder te studeer om nog ’n graad te verwerf.
“Ek sal maar moet sien as ek daar kom, aangesien daar soveel geleenthede in my rigting is. Ek kan myself in ’n later stadium van my lewe na ’n ander land sien emigreer.
“Ek is nog nie seker waarheen nie, maar glo dat wanneer die tyd kom, die Here my sal lei.”
