Glen Marais-egpaar vier hul 65ste troudag
Joos en Johanna wil van dié spesiale herdenking gebruik maak om uit te reik na vriende wat hul jare terug geken het.
“Ons was nog nooit bombasties verbaal met mekaar nie en wanneer ons ooit verskille gehad het, het ons kalm en rustig daaroor gesels.”
Dié liefdesraad word deur Joos Agenbach (88) uit sy komplekshuis in Glen Marais gedeel, waar hy die afgelope 38 jaar saam met sy vrou, Johanna (85), bly.
Dié twee het Express genooi om te kom gesels oor die jarelange toewyding aanmekaar.
Hulle het hul 65ste huweliksherdenking op 5 Maart gevier. Op dié dag het Johanna spesiaal haar hare laat doen om vir haar man mooi te lyk.
Joos het vertel: “Ons het met die kinders gesels en hulle sê toe ons moet die koerant te laat weet, aangesien dit nie aldag is wat mens 65 jaar vier nie. Met die wil ons graag uitreik na verlore vriende waarmee ons vroeër jare gereeld gekuier het.”
Die egpaar is al sedert 1972 in Kempton Park en vertel dat daar destyds een Afrikaanse laerskool was. “Ons het die uitbreiding van Kempton beleef,” sê Joos.
In daardie jare was Joos deel van die beheerraad van Hoërskool Kempton Park en aktief betrokke in die gemeenskap. “Ons het ’n spesiale groep vriende geken toe ek en die tannie senior lidmate van Kempton Kruin NG Gemeente was.”
Hy was die voorsitter van die jong volwassenes in die gemeente.

Johanna sê toe: “Ons het elke maand iets aangebied soos waatlemoenfeeste, debatte, hoede-kostuumpartytjies en konserte vir die senior lidmate.”
Sy vertel ook dat hulle oorspronlik van die Kaap afkomstig is. Hulle het mekaar by ’n treinstasie ontmoet waar Joos, net soos meeste jong mans, tougestaan het vir werk.
“Ek kom toe voor in die tou waar ’n Engelsman my vra, ‘what do you want?’ Al wat ek kon sê was ‘job’. Ek is oorspronklik van Namakwaland en daar het ons nie ’n woord Engels gepraat nie,” vertel hy.
Hy het die werk by die treinstasie losgeslaan en net oorkant die stasie was Johanna ’n “waitress” by ’n koffiewinkel.
“Ek het hom dadelik raakgesien en onmiddellik geweet ek wil hom hê,” sê Johanna baie in haar noppies.
“Ek onthou tot vandag toe hoe haar rompie agter so gewip het soos sy gestap het – ek dink sy was aspris met dié einste rokkie wat sy daardie dag aangehad het.”
Joos en Johanna is gevra wat hulle vandag nog van mekaar koester, waarop Joos geantwoord het dat hy nie eenkeer in hul huwelik nodig gehad het om te vra wat vir ete was nie. “Sy het elke liewe dag kos gereed gehad teen die tyd wat ek by die huis gekom het.”
Johanna was ’n huisvrou wat die kinders grootgemaak het terwyl Joos in ’n finansiële posisie by die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangestel is. Joos het uitgebrei oor sy werksetiek van destyds.
“In die posisie waarin ek geplaas is, het 346 mense onder my gewerk. Ek het nog altyd geglo om eerste by die werk te wees. As die tannie nog half vyf geslaap het, moes ek al op om ses uur die oggend by die werk te wees.
“Baie aande kom ek eers in die bed as die tannie al slaap, want ek het in die aande na werk nog gestudeer. Dit het baie opofferings geneem, van beide my én die tannie.”
Joos en Johanna spog met vier kinders, Andrietta, Willie, Theo en klein-Joos, asook nege kleinkinders: Willie, Estia, Junindi, Carl, Sias, Nadia, Joshua, Jonathan en Adrian. Dit sluit ook in twee agterkleinkinders, Megan en Joseph.
Albei vra dat indien enige van hul ou kennisse die artikel raaklees, hulle die paartjie by 011 972 2171 kontak. “Dit is vir verlore vriende wat soms wonder wat van Joos en Johanna geword het,” het Joos gesê.
