‘n Gebore en getoë Afrikaans-onnie het die onderwys na 44 jaar se toewyding aan slegs een skool, Hoërskool Kempton Park, gegroet.
Hettie Smit (65) van Rhodesfield, het aan Express vertel hoe mal sy oor kinders is en dat hulle die een aspek is waarna sy die meeste sal verlang. “Die interaksie met leerders is die een element wat mens eenvoudig nie sommer in ander beroepe kry nie.”
Vir haar was interhoër, die interaksie met leerders, en eintlik maar alles, vir haar oor die jare die moeite werd.
“Ek was maar 21 jaar oud toe ek by Hoërskool Kempton Park begin het,” vertel Hettie.
Sy het BA Afrikaans-Nederlands, asook liggaamlike opvoeding (LO) aan die destydse Potchefstroom Universtiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou Noord-Wes Universiteit) studeer.
Sy het LO en Afrikaans tot en by 1990 aangebied, toe die LO-leerplan verander het. “Vandaar het ek slegs Afrikaans vir senior leerders aangebied.”
Hoewel die atmosfeer in onderrig in die moderne samelewing verander het, glo Hettie dat kinders steeds dieselfde dinge begeer. “Kinders wil hul eie identiteit hê, wil regverdig behandel word en wil in ’n veilige omgewing wees.
“Hoe minder opvoeding by die huis plaasvind, hoe meer verantwoordelikheid neem die skool aan in terme van dissipline, omgee en selfs, in sommige gevalle, finansiëel. Ons vind deesdae dat kinders werklik meer aandag by die skool nodig het en ek vermoed dis omdat ouers al hoe harder moet werk.”
Vir haar is die toekoms van onderwysgehalte in Suid-Afrika soms onvoorspelbaar, aangesien daar gedurig ’n nuwe minister van onderwys aangestel word.
“Ons voormalige, sowel as huidige hoof, het ons geleer gehalte onderwys word deur die skool bepaal en dat standaard deur die skool volgehou moet word.”
Vir haar is die interaksie met kinders op akademiese-, sport- en leierskapvlak ongelooflik kosbaar. “Die interaksie buite die skool speel ook ’n groot rol.
“Persoonlik is ek mal oor buitemuurse aktiwiteite en kampe, want dit is waar ek my kinders op ’n besonderse vlak leer ken het.”
Hettie is ’n gekwalifiseerde vlak twee avontuurinstrukteur en het 21 jaar lank Kempies se Shongololo Voetslaan-en-Avontuurkamp tot en met 2011 hanteer.
“Dit was soveel pret omdat ons lekker gestap, boogskiet, abseiling en rotsklim gedoen het.”
Het sy self aan sommige van dié aktiwiteite deelgeneem? “Ek het aan alles deelgeneem.”
Ongelukkig moes sy al haar skoolaktiwiteite eenkant toe skuif toe sy met vlak vier melanoomkanker gediagnoseer is. “Ek was twee jaar lank onderhewig aan strawwe chemoterapie en was vir baie lank siek.
“Ek is al nege jaar skoon van kanker,” het Hettie trots gesê.
Met haar laaste verjaasdagviering by Hoërskool Kempton Park het die skool haar lekker bederf. “Die onderwysers het vir my ’n tonneltjie in die personeelkamer gemaak en selfs die kinders het ’n groot ding op die aantreeblad gereël.”
Haar raad aan leerlinge: “Ek is ’n ‘reëltjie-mens’, so hou by die reëls. Doen gereeld jou huiswerk, let op in die klas en alles sal reg wees. Dan is jy al so te sê gereed vir die eksamen.”
