Blinde seun (9) van Birchleigh juig oor sy Bybel in braille
Saans sit Luan saam met sy ouers terwyl hulle vir hom uit die Bybel voorlees sodat hy die brailleskrif met sy vingertjies kan leer lees.
’n Blinde Birchleigh-seun (9) het ’n brailleskrif-bybel ontvang danksy die samewerking tussen die Bybelgenootskap van SA en die AGS Brentwood Park.
Vir Luan Britz was 8 Maart die dag waarin sy wêreld heeltemal verander het toe hy sy Bybel by die kerk ontvang het. Dié besonderse boek is in agt bokse vervoer, met vier tot vyf stukkies Bybel in elk.
Dié boeke bevat geen woorde nie en bestaan slegs uit braille.
Luan is in 2010 sonder ’n fontanel (sagte plek van die skedel) gebore en is met craniosynostosis gediagnoseer. Sy ma, Amanda, het verduidelik dat Luan se nate in sy skedel gebind was.
“Normaalweg behoort die nate met geboorte los te wees sodat die brein kan groei. Dit was ’n moeilike tyd, maar ons is met die hulp van vriende en familie deur dit.”
Sy vertel dat geloof ook ’n groot faktor in hul lewe is.
Luan moes as baba verskeie operasies ondergaan waarvan een ‘n skedeloperasie was.
“Ons het toetse laat doen vir sy gehoor en oë. Sy gehoor was 100 persent, maar hy was blind. Die dokter het gesê dat dit nie so ’n groot operasie sou verg nie,” vertel Amanda verder.
Die dokter het beplan om Luan se ooglens te verwyder en met ’n sintetiese lens te vervang, wat hom moontlik sou kon laat sien.
“Tydens die operasie kon die dokter presies sien wat in die oog aangaan. Sy oë het nie volledig ontwikkel nie en die retina was los van die oogbal. Die dokter het die retina aan die oogbal geheg en die oogbal vol olie gespuit om die vorm van die oog te behou.”
Maar hy was steeds blind.
Amanda sê Luan is ’n baie opgeruimde en gelukkige kind idaarvan hou om sy wêreld te verken.
“Hy hou daarvan om ondersoek in te stel en vrae te vra en is baie selfstandig en liefdevol. Hy hou daarvan om alles van alles te weet en om goed uitmekaar te haal en terug te sit. Hy luister ook graag na musiek en stories.”
Sy sê die gesin was ekstaties toe hy sy spesiale Bybel ontvang het. “Luan is baie opgewonde oor sy Bybel. Ons lees saans ’n stuk uit die Bybel en help hom om dit in braille te volg.
“Daar is nie woorde om te sê hoe ons in ons harte voel nie, want dankie voel nie genoeg nie.”
As huisgesin wil hulle dankie sê vir past George Thompson van die Bybelgenootskap, past Sarel Rudolph van die AGS Gemeente Brentwood Park, asook al die mense wat betrokke was by die skenking.
’n Lidmaat van die gemeente het ook ’n braille-tikmasjien aan klein Luan geskenk.
