Jarelange bevelvoerder sterf op 86
As gevolg van die huidige grendelstatus sal begrafnisreëlings later bekend gemaak word.
’n Jarelange bevelvoerder van die destydse Kempton Park Kommando is op 11 April dood.
Hennie Greeff (86), of Gog soos sy vriende hom geken het, is by sy huis in Eastlands Retirement Village in Benoni aan natuurlike oorsake dood.
Sy vrou Karen en seun André was met tyde van sy afsterwe by hom.
Die egpaar het vir 52 jaar in Birchleigh gewoon, waar Greeff betrokke was by die NG-gemeente, asook die sendinggemeente in Thembisa. Hy was vir jare bevelvoerder van Kempton Park Kommando, wat hy met groot sukses bestuur het.
Hy het baie toekennings ontvang, waaronder die vryheid van Kempton Park, vir sy visie en innoverendheid. Soos wat hy met dapperheid en deursettingsvermoë vir ons land geveg het, het hy ook sy stryd met sy siekte aangepak.
“Hy het met passie gelewe en ons as eggenote, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders kan met trots terugkyk op ’n geseënde lewe van 86 jaar. Rus sag, ons sal jou altyd mis,” het sy familie gesê.
As gevolg van die huidige grendelstatus sal begrafnisreëlings later bekend gemaak word.
Navrae kan aan André Greeff by 072 343 1572 of Pieto Fourie by 081 270 6972 gerig word.
