Local newsNews

Kempton-digter hou elke dag #Kwaransert op Facebook

Dié #Kwaransert hoort: “Ons mense bymekaar bring, want stories bring mense bymekaar. Om mense weer te laat lag. Om mense hoop te gee. Om mense te laat onthou.”

Indien jy die geselskap, humors en stories van jou mede-Kempton Parker verlang gedurende dié inperkingstyd, skakel gerus in by Van Riebeeck Park-digter se #Kwaransert.

Stanley Cierenberg (48) hou elke dag om 10vm sy insetsel van vermaak en digkuns deur sy gedigte en stories, soms saam met klavierbegeleiding, op sy Facebook-profiel op te voer.

“Ek het op die eerste dag van lockdown begin. Om 10 uur is dit gewoonlik tee- en koekietyd vir die meeste ooms en tannies, oupas en oumas en sommer almal, dan kan hulle inskakel en luister.”

Stanley vertel dat sy #Kwaransert in teaterstyl voorgesit word in terme van storievertelling. Sy doel, beklemtoon hy, is: “Om NIKS oor die koronavirus, lockdown of Covid-19 te praat nie. Ek wil dit nie erkenning gee en eers noem in my stories nie. Dis goedvoelstories oor die ou dae, wat veral die ou mense terug sal laat dink.”

Sy beplanningsraamwerk vir die inhoud van elke insetsel is gemaklik en spontaan waarin hy slegs sy eie materiaal opvoer.

ALSO READ:

Managing matric in a time of turmoil

“Ek het boeke, blaaie, laaie en kaste vol stories en niemand het dit nog ooit gesien of gelees nie. Dus, almal wat inskakel is die eerstes wat dit hoor. Dit het ook niks met die daaglikse nuus, weer of politiek te doen nie.”

Hy verseker ook dat gedurende dié opvoerings daar nie gevloek word óf sleg van mense gepraat word nie.

Maar, wat is sy doel wanneer sy gehoor ter sprake is? Hy wil graag sy gehoor laat nostalgies voel. “Hulle moet liefde voel. Hulle moet dankbaarheid voel. Maar ook ‘n bietjie nadink oor die storie en probeer uitvind wat in die subteks staan en hulself vra: ‘Wat probeer die snaakse mannetjie nou eintlik sê?’

“Sommige het my al unfriend op Facebook,” noem hy ongeërg.

Hy sê ook dat dié konsep moontlik kan ontaard in iets anders. “Baie mense kyk dit, baie mense skakel in, tot mense van Nederland. Iemand het die ander dag gevra ‘wat gaan ons doen wanneer lockdown verby is? Waar is die stories?’”

Waarop Stanley antwoord: “Teater toe, natuurlik.”

Sy insetsels word daagliks regstreeks op Facebook uitgevoer deur Facebook Live.

“Ek laai ook ’n YouTube video op wat mense vir mekaar kan aanstuur na hospitale, aftree-oorde, ouetehuise, kinderhuise en enigiemand wat van stories hou. Dis opbouende werk,” verduidelik hy.

Stanley werk onder ’n handelsnaam ‘Breinsuiker’, en vra dat diegene wat meer inligting verlang gerus op sy webtuiste www.breinsuiker.co.za gaan loer.

Also follow us on:

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button