Gedurende grendeltyd is liefdesgebare steeds belangrik. Inwoners van die versorgingseenheid van Glenrus Park Aftree-oord is in hierdie ysige weer met 20 kniekomberse bederf wat deur lede van die oord se breigroep gehekel is. Twee van die klublede, Lulu Pieterse en Rina Erasmus, oorhandig hier gebreide bedsokkies en kniekomberse aan Gert en Joey Nel, ’n egpaar wat saam in die versorgingseenheid opgeneem is. Twintig paar bedsokkies is eiehandig deur Marlene Huyzers van Kempton Park gebrei en geskenk.