BlogsEditor's choiceOpinion

Struwwelpeter: Geleerdes leer les uit staking

Die polisie kon niks doen sonder 'n hofgevel nie en volgens die advokaat was Alfeus se vrese nie genoeg om hof toe te neem nie

SOMMIGE lesers mag die storie van Alfeus met die “slang in die maag” onthou. Wel, daar is ‘n stertjie en hier is dit.

Destyds, in die laat tagtigerjare, net nadat stakings wettig verklaar is, het my lot die behoefte gekry om hulle nuutgevonde spiere te toets. En toe staak hulle. Agthonderd van hulle.

Dit was ‘n “sit –in” in die werkers-kafeteria. Hulle wou ‘n 15% salarisverhoging hê en die maatskappy kon nie meer as 8% bekostig nie. Dit was toevallig die heel eerste post-Wiehahn-staking.

Aan die begin was dit vreedsaam, maar toe word hulle rumoerig en begin hulle sabotasie pleeg. Hier word ‘n klep toegedraai en daar word ‘n pomp afgeskakel. Lastig, en gevaarlik.

Ons het wel al die aanlegte aan die gang gehou met 300 chemiese ingenieurs en andere wat lang ure gewerk het. Maar hulle taak is nie makliker gemaak deur die stakers se gepeuter met masjinerie nie.

Een aand tuis kry ek ‘n vreemde telefoonoproep. Dis van Alfeus en hy het iets om my te vertel. Hy het gehoor dat sekere van die militante stakers beplan om die tenkplaas op te blaas.

Nou, die tenkplaas het ongeveer vyf miljoen ton plofbare vloeistowwe – van alkohol tot asetoon en esters. Die lewensverlies en skade sou nogal erg wees.

Die polisie kon niks doen sonder ‘n hofgevel nie en volgens die advokaat was Alfeus se vrese nie genoeg om hof toe te neem nie.

Die volgende nag om eenuur word ek weer wakker gebel. Sekuriteit berig dat die stakers die sekuriteitsgebou beleër. Hulle is histeries en toyi-toyi met allerhande tuisgemaakte wapens, pangas, en dies meer.

Hulle is heel opgesweep en sekuriteit weet nie wat om te verwag nie. Hulle vra dus die kodenommer van die wapenkluis. Omdat ons ‘n stratregiese punt was, het ons 50 R1 gewere in die kluis gehou.

Ek het egter nie kans gesien vir trigger-happy wagte met outomatiese wapens nie en het dus geweier om die kluiskode te verskaf.

Die stakers het blykbaar agtergekom dat Alfeus ‘n “spioen” is en hulle wou hom doodmaak. Intussen versteek sekuriteit hom in die sekuriteitsgebou se toilet.

Ek het dadelik aanleg toe gery en terwyl ek met die shop stewards probeer onderhandel, is Alfeus in my kar se kattebak versteek.

Ek het hom by die hekke (wat deur die stakers beheer was), uitgesmokkel. Ons is daar weg, reguit na die prokureurs toe – wat ek met groot moeite opgeklop het.

Ons het dwarsdeur die nag gewerk om Alfeus te deponeer en die nodige dokumente op te trek. Tienuur die oggend, nadat die prokureurs vir ons ontbyt gegee het en my laat skeer het, het hulle my ‘n pak klere geleen. Net daarna was ons by die advokaat en ‘n uur later in die hooggeregshof.

Die regter was aanvanklik nie baie geneë om ‘n uitsettingsbevel te gee nie. Ons advokaat het dit aan hom gestel dat hy sekerlik nie dié naweek sy foto in die Sunday Times wou sien nie.

Dit sou gebeur as die tenkplaas opgeblaas word en daar is beserings en skade.

Nou ja, hoewel teësinnig, reik hy toe die bevel uit. Daarna het dinge vinnig begin gebeur.

Die eerste prioriteit was om vir Alfeus en sy gesin te sorg. Ons personeelmense het vir hom ‘n pensioen gereël, sy huis en al sy meubels gekoop vir kontant, die nodige visums gekry en hom en sy gesin lughawe toe geneem.

Hulle is veilig die land uit buite die kloue van die vakbond. Aan die ander kant is gereël dat hy ontvang word deur die Barclays-bankbestuurder wat hom sou help met sy finansiële sake.

Die volgende oggend was die polisie daar in volle sterkte met gewere, traangas en mortiere. Die hofbevel is gelees en die stakers is uitgedryf. Daar was ‘n spannende oomblik toe die polisie vir hulle vyf minute gee om die plek te ontruim.

Daar was ‘n onheilspellende stilte en toe hoor jy hoe die gewere oorgehaal word. Dit het hulle so groot laat skrik dat hulle mekaar in hulle wilde vlugtog by die hekke vertrap het. Daarna is die hekke gesluit.

Dit het nog vier weke gekos om ‘n einde aan die staking te onderhandel, maar ons kon ten minste ons kompleks bedryf sonder sabotasie. Die bonus was dat ons ingenieurs heelwat geleer het deur self die operateurs se werk te doen en dit het later ‘n heel positiewe effek op ons uitset gehad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button