BlogsEditor's choiceOpinion

Struwwelpeter: stop stelery by die werk so

'Hoe sal jy aan jou kinders verduidelik waarom jy in die tronk sit?'

DIE venynige en meedoënlose kruisondervraging wat ons nou in die Pistorius-saak sien is nogal besonder effektief in die hande van ‘n deskundige. Soos ekself eenkeer ondervind het.

Jare gelede kom ons agter dat daar ‘n stelery was in een van ons aanlegte. Ek het ‘n private speurder gekry om die saak te ondersoek, maar al wat hy kon uitvind was dat die aanlegbestuurder en sy adjunk vêr bokant hulle vermoëns leef. Soos oorsese vakansies in duur hotelle. Ons kon egter geen harde getuienis teen hulle kry nie.

Ek gaan praat toe met my prokureur – wyle Anton van Wyk de Vries. Hy was destyds bekend as ‘n man wat ‘n reputasie het vir taai kruisverhoor.

Hy het ‘n rukkie daaroor gedink en toe ingestem om te help. Hy onderneem om die twee verdagtes te braai. Vir ‘n stywe fooi natuurlik.

“Dit gaan alles oor sielkunde,” sê hy. “Ons moet dus eers die toneel reg opstel om te wys dat ons ernstig is. Dit moet nie ontbreek aan gravitas nie.”

“En dis hoe ons die toneel gaan opstel: kry jou raad in jou raadsaal. Moet hulle nie inlig waaroor dit gaan nie. Hulle moet net daar sit en ernstig lyk. Ek sal in die middel langs jou sit en al die praatwerk doen.

“Intussen moet jou sekuriteit albei verdagtes aankeer. Hou die senior een saam met ‘n wag in ‘n kantoor sonder om vir hom iets te sê. Hy mag ook nie die telefoon gebruik nie. Laat ‘n tweede sekuriteitswag die junior een deurbring na die raadsaal – en terloops, bring vir my ‘n dik legger. Maak nie saak waaroor dit gaan nie, dis om te intimideer.”

So gevra, so gemaak. Die eerste verdagte, sigbaar ontsteld, word ingebring. Anton, die prokureur, sê: “Sit, meneer so en so. My naam in Van Wyk de Vries. Ek is ‘n prokureur en ek is gevra om sekere aanklagte van diefstal te ondersoek waarby ons vermoed jy betrokke is.”

Hy blaai rond in die legger voor hom en kyk dan die beskuldige in die oë. En begin sy kruisverhoor. Dieselfde vraag word oor-en-oor gevra en as die antwoord effens verskil, dan konsentreer hy daarop.

Na twee bitter ure stuur een van die raadslede vir my ‘n nota: “Is this really necessary?”

Ek wys vir hom om stil te bly en dis net daar waar Anton in ‘n heel vriendelike toon sê: “Meneer so-en-so, het jy kinders?”

“Ja, meneer, sê hy, “‘n seuntjie en ‘n dogtertjie.”

“Meneer, ek stel dit aan jou dat jy ‘n dief is. Die ergste soort van dief – ‘n man wat van sy werkgewer steel. Hoe sal jy aan jou kinders verduidelik waarom jy in die tronk sit?”

Die kêrel bars uit in trane. “Ja,” sê hy snikkend, “ek het dit gedoen. Maar dis nie alles my skuld nie. Ek is daartoe gedwing deur my senior!”

Anton kyk op sy horlosie. “Goed. Jy het nou ‘n keuse. Ek glo ek het genoeg teen jou om ‘n klag by die polisie te lê.

“Keuse een: dis Donderdagmiddag en jy sal waarskynlik nie borg kry voor Maandag nie. Wil jy dit aan jou kinders probeer verduidelik?

“Maar jy het ‘n tweede keuse. Jy kan ‘n skulderkenning teken en dan kan jy huis toe gaan. Jy sal summier ontslaan word uit jou pos en jy sal verdere toegang tot die perseel geweier word.

“Wat jou toekom sal jy by my kantoor kom haal. Wat is jou keuse?”

Die man huil asof hy nooit gaan ophou nie. Snikkend knik hy sy kop. My sekretaresse word ingeroep en hy dikteer en teken ‘n volledige skulderkenning.

Hy is tien minute gegee om sy lessenaar onder sekuriteitstoesig skoon te maak en daarna word hy deur sekuriteit huis toe geneem.

Dis nou die beurt van die ander man – die senior van die twee. Hy word ingebring. Hy weet nog nie wat aangaan nie, maar hy is woedend en vol dreigemente.

“Spaar jou asem, meneer,” sê Van Wyk de Vries. Jou maatjie het gesing soos ‘n kanarie. Hier is sy skuldbelydenis wat jou ook impliseer.

“Ek stel dieselfde keuse aan jou…”

Hy is tien minute later in sy maatskappymotor deur sekurireit huis toe geneem, wat met die motorsleutels teruggekom het.

En dis net daar waar die stelery gestop het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button