BlogsOpinion

Struwwelpeter: Om nee dankie te sê sou beter gewees het

Wat beteken dit om verloof te wees?

DAAR word gesê dat president Zuma sy nuwe “lame duck”-status (soos die Amerikaners dit noem) gaan vier met ‘n R120 biljoen inhuldiging-spektakel.

Siende dat hy waarskynlik nie die volle vyf jaar-termyn gaan klaarmaak nie, is dit nou wragtig nodig? Kom ons hoop net hy voel nie weer genoop om ‘n dansvertoning in sy Jockeys, luiperdvel en tekkies te lewer nie.

En nog ‘n ding: Struwwelpeter is oud genoeg om terug te onthou na Jan Christian Smuts en al sy opvolgers voor Mandela. As hy reg onthou, het nie een van ons vorige volksleiers dit nodig gevind om ‘n spektakel van hulle inhuldiging te maak nie – dit was “low key” en formeel.

Zuma is seker die swakste Suid-Afrikaanse leier ooit, maar die ene met die meeste hubris. En mense, as julle nie weet wat hubris is nie, dis die ou Griekse woord vir windgatheid. En dan is daar ook ‘n gepaardgaande Griekse spreekwoord: “Diegene wie die gode wil vernietig, word eers mal gemaak.”

* * *

Maar kom ons vergeet van Zuma. Hier is ‘n lekker storie.

‘n Sakeman vertel hy moes ‘n weeklange konferensie in Barcelona bywoon. Dié konferensie eindig met middagete op die Vrydag.

Sy terugvlug is bespreek vir Saterdagoggend en nou sit hy met ‘n lekker oop Vrydagmiddag. Hy besluit om op die strand te gaan lê en ‘n bietjie son te kry.

Terwyl hy daar in sy dekstoel sit, stop daar ‘n toertistebus in die parkeerarea. Aan die kante hang ‘n bord: “Kansas Baptist Ladies Assosiation – European tour.

Die busdrywer maak die deure oop en verdwyn self in die naaste kroeg. ‘n Stuk of dertig middeljarige dames klim uit, meeste van hulle oorgewig, konserwatief geklee en ietwat luidrugtig.

Die toerleidster laat hulle eers voor die bus staan voordat sy ‘n video neem van die hele toergeselskap.

Twee straatkinders – waarskynlik in hulle vroeë tienderjare – verskyn en bied aan om vir ‘n fooitjie te help met die video. Hulle word weggejaag deur die toerleidster.

Ons sakeman dink by homself: “Sy kon net nee dankie gesê het – dit was sekerlik nie nodig om so onbeskof met die twee tieners te wees nie.”

Dan gaan loop die dames op die strand, party selfs kaalvoet in die vlakwater. Hulle geniet dit terdeë – Kansas is mos vêr van die see.

Intussen verskyn die twee straatkinders weer. Hulle glip in die bus en kom uit met die videokamera. Die sakeman wat die storie vertel, sê hy was oortuig dat hulle besig was om dit te steel.

Maar toe nie. Hulle was duidelik verontwaardig oor hulle behandeling en hulle wou dit prakties demonstreer. Wat toe gebeur, is dat die een seuntie sy broek aftrek en, soos my ma altyd gesê het, “lelike dinge met homself doen”.

Die tweede seun video dit, waarna hy sy eie broek uittrek en “nog leliker dinge” met homself doen, terwyl die ander straatkind dit met die video opneem.

Daarna gaan sit hulle die video terug in die bus en verdwyn.

En ons sakeman word dik van die lag. In sy geestesoog sien hy hoe die Kansas Baptist Ladies ‘n koek en tee-aandjie in hulle kerksaal reël, waarna die toervideo vertoon word.

En, sêg hy, hy kan net raai wat die reaksie van die gemeentesaal sal wees op die twee straatseuntjies se bydrae.

* * *

Hymne Weiss, in haar destydse hoedanigheid as sedebewaker, het jare gelede in ‘n rubriek in ‘n Pretoriase dagblad uitgevaar teen wat sy bestempel het as “vuil kuns”. Onder meer het sy geskryf: “Anders as die verbruiker van gewone verbruiksgoedere, het die verbruiker van seks agtergekom dat hy sy koek kan eet en dit steeds behou.”

* * *

En toe was daar die seun wat vir sy pa vra: “Wat beteken dit om verloof te wees?”

“Wel,” antwoord sy pa, “kom ons sê dis soos ek wat vir jou ‘n fiets present gee vir Kersfees, maar jy kry al die fiets in Oktober. En dan sê ek vir jou:

“Jy mag nie die fiets voor Kersfees ry nie, hoewel jy darem met die klokkie mag speel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button