
STRUWWELPETER se niere het nou soos Amcu, besluit om permanent te staak. Dit beteken dialise drie keer per week. Waar jy plat op jou rug lê, gekoppel aan ‘n masjien vir vier ure.
Maar ek moet sê, dit is ‘n ondervinding wat vir ‘n mens nogal geduld leer. Ek dog ek het baie geduld omdat ek een keer 19 potte slangetjies en leertjies met my vierjarige kleindogter gespeel het en dit reggekry het om sewentien keer te verloor.
Maar om op jou rug te lê vir vier ure op ‘n slag neem ‘n bietjie meer.
Maar daar is voordele ook: Jy ontmoet interessante mense. Byvoorbeeld, die stem langs my bed (dit wil sê ek kon hom nie sien nie, omdat daar ‘n masjien tussen ons is) vra nou die dag:
“Buurman en wat is jou naam?”
Ek antwoord en vra: “En wat is jou naam?” Hy sê sy naam en hy vra: ”Wat is jou nering?” Ek vertel hom en vra: “Wat doen jy vir ‘n bestaan?”
“Hof,” sê hy, “werk in die hof.”
“As wat?” vra ek. “Klerk?”
“Nee,” sê hy. “Regter – judge in die hooggeregshof.”
En dit was die begin van ‘n baie interessante geselsie. Hy het onlangs afgetree en is nog baie goed ingelig oor die hooggeregshof en die politiek. Dit was wragtig vier ure se dialise werd.
* * *
Iets wat Struwwelpeter nie mooi kan verstaan nie: waarom dit so is dat ‘n mens‘n koordlose skroewedraaier, handstofsuier, of wat ookal koop met ‘n jaar waarborg. Jy gebruik die item vir 15 maande en dan smyt jy hom weg omdat die batterye pap is en nuwe batterye nie beskikbaar is nie.
Maar ek en my vrou het 10 jaar gelede ‘n Braun elektriese koordlose tandeborsel gekoop wat elke dag herlaai word en nog steeds werk. Nou wonder ek wat weet Braun wat Black en Decker nie weet nie?
* * *
‘n Interessante feit uit die Tweede Wêreldoorlog: die Japanese is, soos ons almal weet, briljante wiskundiges. Gevolglik kon hulle al die kodes van die Amerikaanse weermag gedurende die tweede helfte van die wêreldoorlog in die Stille Oseaan ontsyfer.
Maar daar kom ‘n generaal, wat self uit die Amerikaanse platteland kom, met ‘n briljante idee. Die mense waartussen hy groot geword het, was Navahos. En dié mense het ‘n baie ingewikkelde taal sonder veel reëls met geen geskrewe vorm nie.
Hierdie taal words ook nêrens behalwe in hulle area gepraat nie.
Die lateraal-denkende generaal kry dus honderd sogenaamde “Navaho talkers” in die hande en lei hulle op om hul eie woorde te maak vir militêre items soos vliegtuie, skepe en dies meer. En wat daarna gebeur, is heel eenvoudig. Elke senior Amerikaanse offisier het sy eie persoonlike “Navaho talker”.
Wat dan gebeur, is: Genl A gee aan sy “Navaho talker” ‘n boodskap. Laasgenoemde vertaal dit in Nahavo en stuur dit aan ‘n tweede “Navaho talker”. Die tweede “Navaho talker” vertaal dit terug in Engels. Die Japanese het geen idee waaroor dit gaan nie.
Om die waarheid te sê, hulle was so gefrustreerd dat die hoof Japanese kodebreker selfmoord gepleeg het.
Die laaste “Navaho talker”, Chester Nez, is laasweek oorlede in die ouderdom van 93, maar so braaf was hy en sy span dat hulle ses goue medaljes van die Amerikaanse kongersa gekry het.
* * *
Gewoonlik as ‘n mens moeg is, gaan rus jy by jou huis of ‘n vakansieplek. As jy ‘n president van SA is, kan jy selfs gaan ontspan by Nkandla.
Die vraag is dus, wat soek Zuma in die hospitaal? Het hy ‘n mediese probleem of politieke probleem?
* * *
‘n Paar Gautengers kom hou vakansie in die Kaap met hul visstokke. Hulle huur ‘n boot en ‘n skipper.
“Kyk,” sê die een kêrel, “ek wil nie weer siek word soos laas keer nie. Is daar enigiets wat ek kan gebruik wat sal help?”
“Ja,” sê die skipper.”
“Net voor ons vertrek, eet jy ‘n klein blikkie strawberry jêm.”
Die jamvreter wil sy maats uitvang en hy vertel hulle nie van hierdie raat nie.
Hulle vertrek die volgende oggend vroeg en daar word die “jamvreter” sieker as almal.
Terug aan wal sê hy vir die skipper: “Jy’t gelieg, jou raad het niks gehelp nie.”
“Nee master,” sê die skipper. “Admit dit, toe djy so oorkook, het dit darem nie beter gesmaak nie of hoe?”
