
MENS sien gedurig advertensies wat belowe dat as jy hierdie of daardie (duur) wonderpilletjie gebruik, jy gewig sal verloor. Maar dis nie heeltemal so maklik (of so waar) nie.
Struwwelpeter het in ‘n stadium elke oggend vir ‘n uur lank teen die berghange bo sy huis gestap en hy was redelik fiks. Maar toe ontwikkel hy ortopediese probleme, wat nie alleen sy stappery belemmer het, maar ook sy gewig.
Een van sy vriende het selfs aan hom gesê: “As jy nou ooit ‘n ‘Sir’ sou word, sal jou titel seker ‘Sir Cumference’ wees!”
Hy het dus besluit on ‘n plan te maak. ‘n Bietjie navorsing oor hierdie groeiende probleem het gewys dat daar net twee maniere is om gewig te verloor: jy oefen dit af of jy eet minder.
Hy het gevolglik ‘n professionele dieetkundige gaan spreek. Sy het vir hom ‘n streng (maar tog smaaklike dieët) uitgewerk en hy het dit pligsgetrou gevolg.
Nou, ses maande later, het sy massa verminder van 110kg tot 89kg. Dié 21kg gewigsverlies beteken dat hy nie alleen beter voel nie, maar ook weer sy gunsteling Harris Tweeds kan dra!
* * *
Die ou tannie staan in die tou by die supermark-kasregister met ‘n groot sak hondekos wat sy vir haar liefling Staffordshire Terrier gekoop het.
Die vrou agter haar vra: “O, het jy ‘n hond?”
Die hondekos-tannie vervies haarself. “Nee,” antwoord sy. “Ek eet dit self!”
“Regtig?” vra die praatsieke vrou. “Hou jy dan daarvan.”
“Ja, dis gesond en gebalanseerd en ek gaan elke nou-en-dan op ‘n hondekosdieët. Die enigste probleem daarmee is dat laaskeer toe ek op ‘n hondekos-dieët was, ek in die hospitaal beland het.”
”Hoe dan so? Het jy te veel geëet?”
“Nee. Dis nie dit nie. Ek het ‘n oulike Labrador in die pad gesien. Toe stap ek van die sypaadjie af om sy stert te gaan snuif. Ongelukkig het ‘n motor my getref en ek het in die hospitaal beland!”
* * *
Die boer vertel: Ek het onlangs vir my ‘n mooi jong rasegte swart Aberdeen Angus stoet bulletjie gekoop (I recently spent $6 500 on a young registered Black Angus).
Ek het hom tussen my kudde gesit, maar daar het niks gebeur nie. Hy’t net gras gevreet en al my koeie geïgnoreer.
Ek het begin dink ek het meer vir dié bul betaal as wat hy werd was. In elk geval, ek het die veearts uitgekry om hom te kom ondersoek.
Hy het gesê dat dit ‘n mooi, gesonde bulletjie was, maar moontlik nog ‘n bietjie jonk. Toe gee hy vir my pille om eenkeer ‘n dag vir die bulletjie te voer.
Dit was nogal verbasend hoe vinnig dit gewerk het. Binne twee dae het hy begin om my koeie te dek en hy’s vinnig dwarsdeur die hele kudde. Hy’t selfs ‘n draad gebreek om by my buurman se koeie te probeer uitkom . Hy was soos ‘n masjien!
Ek weet nou nie watse soort pille die veearts vir hom gegee het nie, maar hulle smaak na pepperment!
* * *
Ek en die vrou het een lui Sondagoggend aan die ontbyttafel gesit. Toe sê ek vir haar: “As ek dalk skielik sterf, moet jy al my goed verkoop.”
“Nou hoekom moet ek so iets doen?” vra sy.
“Wel,” sê ek, “ek skat jy sal weer trou en ek wil nie hê ‘n poepol moet met my goed mors nie.”
Waarop sy antwoord: “Wat laat jou dink ek sal weer met ‘n poepol trou?”
* * *
Ouma en Oupa se antwoordmasjien:
Goeie môre, ons is tans nie tuis nie, maar laat asseblief ‘n boodskap na die toon. As jy een van ons kinders is, druk die nommer kind wat jy is en druk dan een van die volgende nege opsies, sodat ons by ons terugkoms kan weet wat ons moet doen:
1. As ons die kleinkinders moet oppas, druk 2.
2. As julle ons kar wil leen, druk 3.
3. As julle wil hê ons moet julle klere was en stryk, druk 4.
4. As julle wil hê dat die kleinkinders by ons moet slaap, druk 5.
5. As julle wil hê dat ons die kinders by die skool moet gaan haal, druk 6.
6. As julle wil hê dat ons vir julle ‘n maaltyd moet voorberei of dit by julle aflewer, druk 7.
7. As julle hier wil kom eet, druk 8.
8. As julle geld nodig het, druk 9.
9. As julle ons vir ete gaan nooi, of ons teater toe wil vat, begin praat, ons luister.
Dankie, Johnny G
