Struwwelpeter: daar kom moeilikheid as jy plakkate wil verander
En van daar af is Middelmus se naam Parool

STRUWWELPETER het ‘n interessante vrou. Onder andere praat sy met masjiene. Soos byvoorbeeld, as sy nie die yskasdeur ordentlik toemaak nie en dit piep, dan vra sy die yskas om verskoning.
Maar nou het ons ‘n apparaatjie – ‘n rekenaar gekoppel aan ‘n dialisemasjien, wat sy aktiveer as ek saans gaan slaap. Dit neem ‘n paar minute.
Nou lê en luister jy na die gesprek met die masjien: “Nou wat is jy vanaand so vol nonsens?” beteken sy sukkel met ‘n pypie. “Thank you!” beteken dat sy die probleem opgelos het.
“Oh dear!” beteken sy’t die verkeerde rekenaarknoppie gedruk en “Blast you, silly thing” beteken dat die rekenaar nie wil voortgaan nie en dat sy weer voor moet begin.
Maar nou moet Struwwelpeter verduidelik: dié apparaat spoel jou peritoneum met 10 liters spesiale vloeistof oornag terwyl jy lekker slaap, en die gebruikte vloeistof loop in ‘n groot dreinsak wat op ‘n rak onder die masjien se trollie lê.
En natuurlik moet mens onthou om die dreinsak se uitloop toe te maak. Die rekenaar waarsku jou immers.
Maar partykeer gebeur daar te veel dinge gelyk, soos die foon wat lui, en dan vergeet mens van iets.
Nou die aand gaan sy badkamer toe in die middel van die nag. Toe sy by die apparaatjie verbyloop voel sy dat daar ‘n plas water op die mat is. Nou weet ek nie of dit die effek van koue water op kaalvoete teen 3vm is nie, maar ek word uit my slapie geruk deur ‘n geluid wat geensins Nachtmusik is nie:
“Oh, dammit, bliksem merde MERDE Merde!!!” Sommer so in drie tale gelyk!
Nou nie seker of sy die masjien of haarself aanspreek nie. En toe maak sy die mat skoon sonder ‘n enkele woord verder.
Struwwelpeter, wat ook al oor die afgelope amper-halfeeu van getroude lewe geleer het wanneer om raad te gee en wanneer om sy bek te hou, maak maar of hy rustig voortslaap.
* * *
Terwyl ons nou so uit die huis praat, soos my ouma altyd gesê het, hiermee nog ‘n lekker staaltjie.
Ons het drie seuns , byname Maximus, Middelmus en Minimus. Op ‘n slag, in die vroeë tagtigjare, was aldrie gelyk op dieselfde universiteit . Nogal interessant hoe hierdie baldadige drie vandag ernstige sakemanne geword het.
Maar, nou ja, terug na my storie. Een middag, net na sewe, kry ek ‘n telefoonoproep van Middelmus. Hy’s in die moeilikheid. Hy word aangehou by die Bloemfonteinse Polisiekantoor, maar hy weet nie waaroor nie.
Sover hy kan onthou het hy geen wette gebreek nie. Wat nou?
Hy beduie dat die sersant ook met my wil praat. Ek vra wat aangaan en die sersant antwoord: “Meneer, jou seun het niks verkeerd gedoen nie en daar gaan ook nie ‘n klag teen hom gelê word nie. Maar, wat hy wel gedoen het, was ‘n bietjie dom en nou sit hy hier vir sy eie beskerming. Ek sal hom nou-nou met ‘n polisiemotor terugneem na sy koshuis.”
“Maar wat het gebeur?”
“Wel, Jy sien, die AWB het vanaand ‘n groot saamtrek in Bloemfontein. Die hele plek is vol plakkate: ‘Vanaand: Stadsaal Eugene Terre’blanche opmars’.”
Maar daar kom die moeilikheid toe: Middelmus het dit goed gevind om die plakkaat te verander na:
“Vanaand: Stadsaal Eugene Terre’blanche op Jani.”
(Onthou iemand nog vir Jani, ET se skelmpie?).
En toe moes die sersant vir Middelmus red van ‘n verwoede AWB-bende. Hy’t hom toe maar agter in die vangwa gesit en polisiestasie toe gebring vir sy eie veiligheid.
Later is hy in ‘n polisiemotor na sy koskuis geneem en van daardie dag was sy bynaam “Parool”.
* * *
‘n Boer ontmoet sy nuwe buurman. Dié buurman is skoon behep oor sy belangrike familie en wei breedvoerig uit oor al die ministers en ambassadeurs wat aan hom verwant is.
Uiteindelik sê die boer,so droogweg: ”Buurman, ek stel regtig nie belang in jou vername afkoms nie. Ek wil nie met jou teel nie. Ek stel belang in jou as buurman.“
