Struwwelpeter: Regering boer nou met super-melkkoeie
Dit is duidelik die premier weet niks van melkkoeie nie

‘n Lessie vir Eskom: Struwwelpeter was destyds betrokke by ‘n groot nywerheidskompleks.
Hy het baie vinnig agtergekom dat hy nie van verrassings hou nie. En sy raad nog minder.
Om sulke onaangename probleme te vermy, het ons ‘n beplande instandhouding (planned maintenance)-sisteem gebruik. Verder was daar ‘n span wat voltyds gesoek het na potensiële probleme.
Byvoorbeeld, ons het agtergekom dat ons gereeld ons fabrieksdakke (al 22 van hulle) moet verf. Doen jy dit nie, dan roes die dakke en wanneer dit reën, kry jy water op jou elektriese motore. Plus ‘n onaangename verrassing. Dus was daar ‘n span wat voltyds dakke geverf het.
Eskom, julle het van hierdie noodsaaklike dinge geweet onder die vorige bedeling. Waarom het julle dit so vinnig vergeet?
* * *
Moet darem net een ding in Eskom se verweer sê: Hy het genoeg probleme en kon waarskynlik beter doen as hy nie nog geteister was met onkundige politieke inmenging nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Kusile.
Eskom het beplan om sy steenkool by die nabygeleë Anglo-Inyosi Largo-myn te kry, per vervoerband. Dus geen vragmotors nie en geen padskade nie.
Die mynbouhandves vereis dat myne 26% swart aandeelhouding moet hê. Hoewel 27% van Anglo-Inyosi se aandeelhouding swart is, het een of ander oorywerige amptenaar in die Departement van Handel en Nywerheid besluit dat Kusile nie die myn se beplande vervoerband mag gebruik nie – omdat die swart aandeelhouding nie 50% plus een is nie.
Een van die gevolge van hierdie dom besluit is die huidige elektrisitreitskrisis. En nou weet julle.
* * *
Maar genoeg van politiekery. Hier is ‘n goeie wenk: Die Struwwelpeters kweek, onder meer, botterneut (butternut) pampoentjies in ons groentetuintjie. Dis lekker om te eet, maar moeilik om af te skil. Dus, as jy van botterneut hou, probeer die volgende:
• Sny die onder- en bokant af
• Prik die pampoentjie vol gate met ‘n vurk
• Mikrogolf vir 3 tot 4 minute
• Sny oop en skep die pitte ens uit
• Skil af. Jy sal verbaas wees hoe maklik dit nou is
* * *
Die Stad Kaapstad het nou in sy wysheid besluit dat daar nie meer ‘n Kersdag gaan bestaan nie. Dit is nie polities korrek nie. Dus word daar nou verwys na “ Welwillendsheidsdag”.
Nou gaan Vader Krismis ook seker vervang word met ‘n polities-korrekte geslaglose welwillendheidspersoon . Hy/sy sal dan seker op Welwillendheidsaand vir die kleuters, gedrapeer in ‘n polities korrekte groen japon, besoek. Rooi en wit is mos is nie meer PK nie! Die presente sal ook waarskynlik PK moet wees – soos ‘n foto van Zuma of Zille in ‘n PK Sjinese raampie.
* * *
Krynaauwslust is ‘n 4 400 ha plaas naby Vrede in die Vrystaat. Die Vrystaatse regering het die plaas gekoop en begroot om R570 miljoen daaraan te bestee, via ‘n swart bemagtigingsprojek met die naam Estrina.
FS premier, Ace Magashule, het bereken dat Krynaauwslust 100 000 liter melk per dag sal lewer, met 370 koeie (270 liter per koei per dag). Dis omtrent 27 keer meer as wat ‘n gemiddelde koei produseer. Wat beteken dat hy niks van koeie weet nie.
Maar as mens verby Krynaauwslust ry, dan ruik jy iets. Dit is die verrotte karkasse van die 65 beeste wat reeds van honger gevrek het en in ‘n sloot gegooi is.
Estrina se kantore in Blok A, Grayston Ridge Office Park in Sandton, word gedeel met die volgende bekendes:
1. Duduzane Zuma – Ons Prez se seun.
2. Mabengela Pty (Ltd) – ‘n Gupta-maatskappy
3. Thsepo Magashule – Die seun van die FS se premier
Sal daar ooit ‘n einde kom aan hierdie verdomde, blatante korrupsie?
(Dankie, LL)
* * *
Struwwelpeter sit anderdag en wag vir ’n rooi lig by ‘n besige kruispad. Daar is twee koerantverkopertjies, een op elke hoek.
Terwyl een van hulle sukkel met kleingeld, glip die ander ene tussen die verkeer deur en verkoop ‘n koerant op die eerste ene se terrein.
‘n Bekgeveg volg. Onder meer seg die mannetjie aan my kant : “Ma’ loep djy! Ek willie nou fight nie. Ek wiet enyway djou ma n*** vir groceries!”
Struwwelpeter trek weg, maar hy lag so dat hy amper nie sy kar kan bestuur nie.
Later dink hy weer oor wat die koerantverkopertjie gesê het. En toe is dit skielik nie meer vir hom snaaks nie. Dis tragies. Omdat dit waarskynlik waar is.
