Editor's choiceLettersOpinion

Polisie swyg oor Bredell-sjebeen

Hoekom het daar op 6 Maart 14 polisievoertuie by die sjebeen ingetrek?

JOHAN SWART van Bredell skryf:

Ek sal dit waardeer as Brig Marx ons ‘n antwoord kan gee oor hoe die wet wettig oortree kan word.

Ek woon al meer as 15 jaar in Bredell en daar was nog nooit soveel drama soos die af gelope twee tot drie jaar nie. In Sewendeweg is daar ‘n sjebeen wat volgens die polisie ‘n wettige lisensie het. Ek bel die polisiebeamptes al vir amper twee jaar daaroor.

Aan die begin het die polisie ingegaan om hulle stil te maak, maar die eienaar weet hoe om mooi met die polisiebeamptes te praat. Nou kom hulle nie eers meer as jy hulle bel nie.

Myns insiens is dat geen persoon of instansie ‘n dranklisensie kan bekom nie tensy die naaste bure verwittig word, en ook beslis nie as die gemeenskap daarteen skop nie. Indien daar wel ‘n lisensie toegeken is, hoekom doen die polisie nie hulle werk nie en kyk wie het daardie lisensie toegestaan. So kan die korrupte spul vasgetrek word en kan ons in Bredell weer leef soos ons geleef het – sonder inbrake, vergiftigde honde, ‘n geskreeu elke naweek van Vrydag reg deur tot Maandagoggend.

Laasjaar moes twee motorfietsryers uitswaai vir twee wat in die straat oor ‘n bottel bier baklei en in mekaar vasgery. Een ryer is op die toneel dood.

Ons het regtig gedink dis die einde van die sjebeen, maar die metropolisie het net die pad toegemaak en vir die lykswa gewag en gesê hulle kan niks maak met mense wat dronk in die straat loop nie.

Hulle weet nie eers dat daar ‘n wet teen dit is nie. Die polisie weet ook nie dat daar ‘n wet is teen ‘n dronk mens op straat nie, want die mense wat by die sjebeen uitloop is so dronk dat hulle net die hele tyd skreeu en die polisie los hulle. Net die feit dat die lisensievoorwaardes oortree word is genoeg om die sjebeen toe te maak, maar waar is ons polisie wat ons moet oppas?

Wat gaan jy, Brig Marx, doen om orde in Kemptonpark te herstel? Wat is jou lang- en korttermynplanne? Wat gaan jy doen met die dwelms wat oop en bloot verkoop word en met die polisiemanne wat nie eers skaam kry om voor ons geld van die dwelmhandelaars te vat nie?

Jou beamptes wat parkeer soos hulle wil as hulle inkopies doen?

Nou vir die groot vraag: Hoekom het daar op 6 Maart 14 polisievoertuie by die sjebeen ingetrek? En hoekom is die sjebeen nou harder as ooit te vore?

Ons soek antwoorde.

Brig Marx van Kemptonpark SAPD het nie op die brief gereageer nie – Redakteur

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button