Daar is net een Juffrou Sarie
'Ek wens ek kon my laaste 15 jaar in die onderwys hand aan hand saam met jou gewerk het'

HELEEN VISSER skryf:
Die artikel oor die personeel wat by Laerskool Kruinig aftree aan die einde van die jaar, verwys.
Iemand wat onder Juffrou Sarie Cloete van Kruinsig se hande deurgeloop het, sal nooit net van haar praat as Cloete nie. O nee!
Daar is net een Juffrou Sarie. As ek ‘n onderwyseres kon benoem, sou dit Juffrou Sarie wees.
Nie as die onderwyseres van die jaar nie! Nee! As die onderwyseres van die eeu! As sy van jou kind praat, raak jy as mamma sommer nog liewer vir die mannetjie.
Het jy al gehoor van ‘n onderwyseres wat haar hele kosbare April-vakansie opoffer om twee ure ‘n dag kindertjies, wat nog nie heeltemal lekker is met hulle klankies nie, bietjie ekstra oefening te gee? Dit heeltemal vrywillig en verniet.
‘n Juffrou wat die huiswerkklas so aanpak dat die kinders uitsien na hulle huiswerk?
‘n Juffrou wat ‘n graad eentjie se tekening sal raam en ‘n ereplek gee in haar huis?
Ek moet net noem dat hy daar geskryf het dat hy haar die heel liefste in die wêreld het. ‘n Juffrou wat ‘n graad 5 seun sal bel (soos elke ander jaar) en hom gelukwens met sy verjaarsdag, en ons is nie familie of huisvriende nie.
Dankie, liewe Juffrou Sarie. Ek wens ek kon my laaste 15 jaar in die onderwys hand aan hand saam met jou gewerk het, sodat ek nog uit jou uitsonderlike kennis en insig kon put.
Ek wens dit was nog nie tyd vir jou aftrede nie.
Groete, ‘n mamma van twee seuns wat albei by Juffrou Sarie in graad 1 was.
Kruinsig groet drie van die bestes
