SA is soos ‘n skip sonder kaptein
Die vlaag van misdaad raak elke aspek van die beskaafde samelewing

ARTHUR VAN VUUREN skryf:
Huurders van my moes onlangs ‘n gewapende huisroof op my perseel in Bonaeropark trotseer.
Die meegaande koerantopskrifte (13 in totaal!) is uit Kempton Express en almal vanuit een uitgawe. Dit is tekenend van die barbaarsheid van kriminele in die samelewing en bewys dat ons pragtige land in anargie verval het – nie net in Kemptonpark nie, maar Suid-Afrika as geheel.
Deur dié ope skrywe doen ek ‘n beroep op die leierskap van ons land om daadwerklik teen misdaad op te tree en nie slegs sylangse verwysings en omseilings te opper nie. Ons het ontaard in ‘n skip sonder kaptein en sonder rigting, in ‘n woedende storm van geweld en misdaad, wat vredeliewende en wetsgehoorsame landsburgers wil verswelg.
Ek stem saam met prominente sakemanne wat onlangs erge trauma ervaar het aan die hand van misdadigers, onder andere Dawie Roodt. Hulle bevestig dat misdaad een van die grootste bydraende oorsake is van ons land se gebrek aan ekonomiese groei.
Die vlaag van misdaad raak elke aspek van die beskaafde samelewing en is gemik daarop om elke bate wat oor die afgelope meer as 360 jaar gebou en ontwikkel is, te vernietig.
Koperkabels word geplunder, brûe en geboue word verwoes, werkgewers en boere word vermoor of vermink, vroue en kinders word verkrag en mishandel.
Landsbates is geplunder en eens suksesvolle staatsondernemings is vernietig deur korrupsie, wanbestuur en onkunde.
Ek doen ‘n dringende, amper desperate beroep op ware leierskap om te verrys en aksies van stapel te stuur wat tot onverwylde redding van ‘n sinkende, sterwende Suid-Afrika te kom.
Na gelang van die voorgaande, is ek besig om my opsies te heroorweeg en oor my toekomsplanne te besin, ten gunste van my familie, vriende en medegenote in Jesus Christus, ongeag ras, geslag of taal. Dalk sal my kennis, geleerdheid en ondervinding elders erken en waardeer word.
Hiermee dan ‘n spesiale pleidooi: Asseblief, word wakker, die land het bevoegde, gewillige en kragtige leierskap nodig, leiers wat vreesloos sal optree in belang van ons land en sy wetsgehoorsame burgers.
Aan die miljoene wetsgehoorsame medeburgers, laat ons daadwerklike pogings en aksies loods om verandering ten goede mee te bring. Laat ons ook begin om bewusmakingsveldtogte te loods en te ondersteun, gepaste leierskap te verkies, te bemagtig en aan te moedig, asook gepaste litigasie van stapel te stuur.
