Kleuterskool weier glo om lekkers uit te deel
'Cupcake' en koeldrank maak kinders te 'hiper'
BEKOMMERDE OUMA skryf:
Wat word van eetgoed vat mammas skool toe neem vir kleingoed se verjaarsdae?
Tot my skok moes ek verneem dat die volgende by ‘n kleuterskool in Kemptonpark gebeur het.
My kleindogter het verjaar en daar is besluit dat elke kind in die klas, daar is 29 van hulle, slegs ‘n tuisgemaakte klein koekie sou kry (cupcake) sowel as ‘n glasie koeldrank.
As ‘n ietsie ekstra het ouma klein pakkies beertjies vir elke kind gekoop en ook skool toe gestuur.
Maar tot my ontnugtering is daar deur die onderwyseres besluit dat die kinders te “hiper” was na slegs ‘n “cupcake” en ‘n glasie koeldrank en dat die beertjielekkertjies nie uitgedeel sou word nie.
Nou vra ek met trane in my oë: hoekom weerhou onderwysers lekkergoed wat uitgedeel moes word tydens die kind se verjaarsdag? Hoeveel moeite word daar gedoen deur die ouers en dan hoor mens agteraf van sulke gevalle? Ek wil nie eers praat oor waar die res van die koeldrank heen is nie.
Dit laat mens wonder of sulke voorvalle gereeld voorkom? Kleuterskole is nie meer kleuterskole nie.
Ek is ontnugter, bitter en hartseer vir die kind se part. Dalk moet mens maar vra dat die kameras in die klasse getrek word sodat mens regtig kan sien wat die stand van die skool regtig is.
Pasop ouers, dit kan met julle kinders ook gebeur. Ons sien uit na ‘n nuwe skool volgende jaar.
