Rakkers gee kleindogter ‘ritme’
'Dankie dat julle haar besondere talente gehelp bou het'
OUMA skryf:
Vandag is dit my enigste kleindogtertjie se laaste dag in haar kleuterskool.
Mens se hart voel seer dat sy so vinnig grootgeword het, maar terselfderttyd lë daar ‘n groot dankbaarhied in my – dankbaarheid vir so baie mense wat omgee, dankbaarheid vir die groot genade van die Here wat haar tot hier toe beskerm het en die mense om haar gedra en met wysheid geseën het.
Ritme Rakkers was die afgelope jare Cara se “oggendhuis”. Hierdie skool en sy onderwysers en helpers het vir ons as ouma en oupa en vir my dogter en skoonseun die lewe soveel makliker gemaak. Soveel omgee en nooit was enigiets te veel of te moeilik om te doen nie.
As daar nood was het julle onmiddellik opgetree en werk daarvan gemaak. Sy was altyd in goeie hande.
Dankie dat julle gehelp het om vir haar ‘n stewige basis te skep waarop sy kan voortbou. Dankie dat julle almal haar met soveel omgee elke dag van die jare wat sy daar was opgedra het aan die Vader.
Dankie dat julle haar besondere talente gehelp bou het. Dankie dat julle haar persoonlikheid gehelp ontwikkel het en dat sy vandag ‘n selfstandige, gehoorsame en bowenal ‘n gedissiplineerde klein dogtertjie is wat omgee vir haar gesondheid.
Saam met my twee kinders het julle aan ‘n besondere klein mensie gebou – die grondslag wat julle gehelp lê het is stewig en op vaste rots.
Nou wag die “groot skool” met al sy uitdagings, maar ek weet dat Cara ook hier sal uitstyg en dat sy ‘n klein wennertjie is.
Ritme Rakkers, julle kook! Voorspoed vir al die uitdagings vir 2016 met al die nuwe mensies waarvoor julle moet omgee en wat julle moet slyp vir die wêreld daar buite.
Vir Ouma se lieflingskat, “You go girl”. Sterkte met die nuwe uitdaging en die volgende trappie van die leer!
