
DR STEFAN HOUGH, voorsitter van Birchleigh Belastingbetalersvereniging, skryf:
Die plaaslike verkiesing op 3 Augustus moet ten alle kostes uitgestel word omrede die Onafhanklike Verkiesingskomissie (OVK) se Thlokwe vervalsde kieserslys ook ter sprake is in ander kiesafdelings.
Die bewyse vir die versoek is soos volg:
Op 16 Maart ontvang ons ’n brief, gerig aan ene Regina Araujo Ramos van Houtkapperstraat, Birchleigh, om te herregistreer vir die komende verkiesing. Ons bly al 43 jaar by daardie adres en ken glad nie Me Ramos nie. Ons verneem ook dat ander persone wat nie in ons omgewing bly nie, Birchleigh straatadresse valslik gebruik vir hul registrasieproses.
Hoe kan die OVK toelaat dat ’n persoon hul naam valslik op die kiesersrol plaas, wat nie eers by so ’n adres bly nie?
Soos dit ’n gehoorsame burger betaam, bel ons 32810 om te bevestig dat ons wel by die korrekte kieslokaal geregistreer is en beide my en my vrou se korrekte registrasie word bevestig.
Omrede ons nie die vrede vertrou nie, gaan besoek ons die betrokke kieslokaal op 9 April, net om die volgende skokkende ervarings te beleef:
Met die oorhandiging van my ID dokument het die OVK-beampte slegs my naam op die kiesersrol bevestig, sonder om bevestiging van ons adres te vra. Ons het ons munisipale rekening byderhand gehad, maar hulle het glad nie daarin belanggestel nie.
Ek wys hulle die brief waar Me Ramos valslik my adres gebruik het om op hul kiesersrol te kom. Hulle antwoord: “Gaan sê vir die polisie”. Hulle stel niks belang om haar van die kiesersrol te skrap nie en hulle weet dat die polisie niks kan doen met ’n vervalsde adres en geen telefoonnommer nie.
My vrou, wat al 70 jaar oud is en al vir 40 jaar by die spesifieke stemlokaal haar kruisies trek, se naam is geskrap van die kiesersrol. Hoekom?
Sy moes toe weer ’n vorm invul om te registreer en weer eens word haar adres glad nie geverifieer nie. Wat gebeur met kiesers soos sy wie se name verkeerdelik geskrap word?
Die arme DA moniteerder word doelbewus doer anderkant in ’n hoekie geplaas en kan glad nie hoor of sien wat by die registrasietafel aangaan nie.
Nou moet ek ’n verklaring maak: “Ons het glad nie ondervind dat die OVK-beamptes enigsins belanggestel het in verifikasie van die kiesersrol nie en toelaat dat enige persoon sy/haar naam op die kiesersrol kan plaas, sonder dat hul bevestig of die informasie geldig is.
Ons het geen vertroue in die OVK se “onafhanklikheid” nie en kan dus bevestig dat die verkiesing nie eerlik en regverdig gaan wees nie. Die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Thlokwe is dus nie net vir Thlokwe relevant nie, maar vir die hele Suid-Afrika.
