CHRISTA ENGELBRECHT van Pretoria skryf:
Ek het Vrydag, 7 Oktober deur Kempton gery vir ’n vertoning by Carnival City.
My seun besit ’n garage in Pretoria. Ek het ’n kar van sy vloer af geleen en gestop om petrol in te gooi.
Die BP-diensstasie in Gezina se petroljoggie het nie gelees wat op die kar staan nie, want dis duidelik geskryf diesel. Hy het petrol ingegooi en ek het versuim om te kyk dat hulle dit reg doen.
Om ’n lang storie kort te maak, ek het gestrand by Total Bonjour in Atlasweg opgeëindig waar ek Raymond gevra het om my te help. Binne ’n halfuur het Raymond en sy gawe petroljoggies my kar leeggetap en diesel ingegooi.
Ek wil Raymond en sy span vir hul professionele diens bedank, want sonder hul flinke en vriendelike diens, sou ek nog steeds gestrand gewees het.
In vandag se lewe hoor ons meestal net negatiewe nuus en hierdie is bietjie positiewe nuus. Daar is wel mense met harte daar buite wat nog omgee vir hul medemens.
