JOHAN ODENDAAL skryf:
Ek rig hierdie skrywe uit frustrasie, want ek dink dit is een van die grootste klugte in Ekurhuleni – dit is net een groot geldmaakbesigheid.
My redes is as volg.
My dogter het vandag haar sewende leerlinglisensietoets by Kempton Park se toetssentrum geskryf. Weer eens het sy drie punte gekort om deur te kom.
Eerste keer het sy dit heeltemal nie gemaak nie (wat te verstane is), tweede keer een punt, derde keer twee punte, vierde keer drie punte, vyfde keer twee punte.
Die sesde keer het sy per ongeluk die “end”-knoppie gedruk voordat sy klaar was. Sy het vir hulp gevra, maar daar is vir haar gesê dit is haar probleem.
Die sewende keer vandag, 5 Februarie om 8vm weer drie punte kort.
Sy het nou weer ’n afspraak gemaak vir toets nommer agt.
Vra jy om met ’n bestuurder te praat, is hy nie beskikbaar nie of jy moet wag totdat hy eendag uit sy kantoor kom.
Mense, dit is R108 op ’n slag, maal agt is dit R864 wat deur hulle gekry is vir niks.
Hulle dwing mense om dit maar onder deur die tafel te kry, want dit kos jou op die ou einde goedkoper.
