
Ongelukkige inwoner skryf:
Ek het werklik nie woorde wat kan beskryf hoe ontevrede ons as belastingbetalers is nie.
Die gras in ‘n park in Sonneblomstraat is ’n wyle gelede gesny, maar daar is absoluut niks opgetel nie. Dit lyk nou erger as ooit tevore.
Behalwe vir die rotte en gemors, het dit nou ook sommer ’n ‘dumping site’ geword wat ’n erge negatiewe beeld van ons omgewing skep. Wie ook al in beheer is van al die aspekte om die saak op te los, is heeltemal te slapgat (verskoon die woord) om hulle werk te doen.
Ons as belastingbetalers moet net hoes en toesien hoe alles agteruitgaan as gevolg van mense wat aangestel is om na ons en ons omgewing om te sien.
Die DA waarvoor ek gestem het, versaak ons totaal en die slapgat stadsraad is te onbeholpe om hul werk te doen waarvoor hulle betaal word. Dit maak nou vir my sin dat mense deesdae alles afbrand en totaal vernietig, aangesien die dienslewering ’n totale gemors is.
Ons het self 17 swartsakke gemors en gesnyde gras op 1 Augustus verlede jaar opgetel en dit is nou al 10 en ’n half maande later. Dit is en bly ’n skande dat ons belastingbetalers met hierdie nuttelose, onverantwoordelike mense wat na ons belange moet omsien, sit en niks gebeur nie.
Ek is bewus daarvan dat daar allerhande regsprosesse is wat die saak kan uitrek, maar dit bly ’n probleem waarmee ons as inwoners sit. Ek hoop regtig dat alle betrokke partye iets aan hierdie saak gaan doen en nie net weer die probleem na die volgende persoon aangee nie.
