LettersOpinion

Die verhaal van die gatkykertjies van Tugela(rivier)-straat

Weer eens staan hulle vir die gat en kyk sonder enige benul wat om te doen. Al wat hulle doen is om die hoop grond verder te versop

‘n Inwoner van Tugelastraat in Glen Marais, Carien Olivier, skryf hier oor haar waarnemings van wat sy die gatkykers noem nadat ‘n pyp voor haar huis gebars het

9 Oktober 2018

Ek vind ‘n fonteintjie op my sypaadjie. Bel die waterafdeling van Ekurhuleni en rig ‘n klag aan die mislikepaliteit van Kemptonpark om 8vm.Hulle kom toe so 11vm se kant rustig hier by my woning aan. Geen haas en geen dringendheid oor die water wat gemors word nie en al tot onder in die pad loop nie.

Ruk die hele pyp met ‘n TLB uit sy nate, beskadig die nuwe fiberlyn en my sypaadjie is ‘n hoop grond tot in die middel van die pad. Niemand kry die valve om die hooftoevoer toe te maak nie en alles verander in ‘n modderbad.

Na ‘n gespartel met min entoesiasme kry hulle toe die hooftoevoer toegedraai. Sewe staan vir die gat en kyk. Fiddle hier en fiddle daar sonder enige sukses.

Vieruur verkas hulle soos kinders wanneer die skoolklok lui. Needless to say, dankie oom Fransie dat jy toe die noodspan 11 uur die aand aangesê het om ‘n stop flange op die oop pyp te sit. Darem kon ons bad.

16 Oktober 2018

‘n Week gaan verby. Om 4nm kom ‘n nuwe span gatkykers toe mos weer hier aan. My sypaadjie en pad voor my huis na die naweek se reën lyk soos ‘n mud

track. My man met sy sin vir humor reken my hulle weet hy’t nie tyd om te gaan 4×4 nie en hulle skep toe vir hom ‘n mud track op ons plaveisel. Ek wens ek kan so ligsinnig wees soos hy. Altyd ‘n ou grappie in die donkerste tye.

Wat doen die gatkykertjies? Hulle draai die stop flange wat die water na die hele buurt toe voorsien oop sonder om die hoof toevoer toe te draai. Natuurlik is dit ‘n ander span en hulle weet nie waar die valve al vir die laaste 23 jaar sit nie.

Weer eens ‘n gespartel sonder entoesiasme en hulle kry die “groot kraan” toe. Die twee by twee en ‘n half by een en ‘n half meter diep gat is vol water van kant tot kant.

As ons hom net kon fiberglass het ons ‘n gemeenskapsstraat-splashpool. Weer eens staan hulle vir die gat en kyk sonder enige benul wat om te doen. Al wat hulle doen is om die hoop grond verder te versop en weg te trap op my eens groen sypaadjie.

Om en by 5.30nm sien ek lig in die tonnel! Hulle haal emmers uit die voertuig om die splashpool leeg te skep. Een kry toe ongelukkig ‘n brein fart!

Die water spuit hoog die lug in met niemand in sig.

Hulle gaan soek ‘n waterpomp en die arme dame wat op die toneel wag word gekonfronteer met die vraag, “Hoekom skep julle nie die gat leeg met daardie emmers nie?”

Die antwoord was “its too deep”. Ok dan, dis nou peak hour traffic! Hulle is teen donker eers terug met die pomp wat amper 15 minute mee gesukkel word en hulle gee toe op en die gat wat twee ure terug al kon leeg gewees het, word toe maar leeggeskep met daardie old faithfulemmers. GEE MY KRAG!

So sukkel hulle toe tot middernag en sit die stop flange terug. Nadat hulle na twee probeerslae die groewe van die koppelings gestrip het.

Needless to say again, my man moes in die swembad bad. Hy staan vroeg op vir werk. Konnie wag vir middernag soos die vorige week nie.

17 Oktober 2018

‘n Nuwe span gatkykers is terug. Natuurlik is ek dadelik buite. Ek moet sien wat hulle plan vandag is. Ek sê vir een van die dames (dink nie dis ‘n werk vir ‘n vrou nie, nie geel, groen of pers nie) die water is nie afgedraai nie en hulle kan nie die flange afdraai nie.

Ek wou dit eintlik lê en kyk anders breek ek dalk ‘n been wanneer ek neerval van die lag as die water weer begin spuit soos gister. Maar om horende doof te wees help nie my situasie nie.

Wat gebeur? Kort voor lank is die splashpool weer tot oorlopens toe vol. Hulle kry toe ‘n werkende pomp. Maar hulle weet nie hoe werk watervloei nie.

Al die water wat hulle uitpomp loop terug in die gat,want die hoop grond gooi ‘n wal. Liewe ouers! Sit die pomp net aan die ander kant van die damwal. Die Tugelarivier loop afdraende sover ek weet.

Ten einde is die gat leeg. Jippeeee! Nou kan hulle die pyp las en ons kan weer water hê.

Die pyp pas nie. Die nuwe koppeling is te groot. Hulle sny ‘n stuk van die pyp af en daar is die pyp te kort om gelas te word. OH MY FREAKIN WORD!

Uiteindelik is daar aksie, maar gaan dit werk?

Daar pak hulle op en ry, dis twee-uur die middag en die buurt het nie water nie. Ek bel die hele wêreld vol. Ek word gestuur van nommer tot nommer.

Ek mag nie name noem nie, maar ons wyk se verteenwoordiger is in vergaderings tot Vrydag? Dankie tog ek is nie hy nie.

Wie kan ek bel wat omgee waarvoor ons mislikepaliteitsfondse voor gebruik word? Ek is raadop.

My sypaadjie en plaveisel is in ‘n toestand. Hulle is nou hier vir nog ‘n probeerslag. Kom ons hoop vir die beste. Dalk kan ek môre werk.

Nee wat. Dis reeds weer 10 uur die aand en hulle het nou eers weer ‘n pomp opgespoor. Amper vier ure gesukkel om ‘n pomp op te spoor. Daar word lekker oortyd betaal. Dit moes twee-uur vamiddag al uitgesorteer geword het.

Ons stap 10 uur uit om te sien wat gebeur. Wat kry ons buite? Die gatkykers wat wag dat die pomp kom het ‘n vuur gemaak op my sypaadjie. Oh my word. Sommer net so.

Gryp emmers, julle. Maak die gat leeg soos die vorige aand. Dit het beter gewerk as die stukkende pomp. Maar nee. Oortyd word opgemaak. My man moes weer die swembad trotseer.

Ek is nie braaf genoeg vir die koue water nie, ek is aan beter gewoond. Dis 11 uur, ek gaan slaap. Was maar gou vir possible en die tande. Kannie langer wag

vir water in die pype nie.

18 Oktober 2018

Die damwal het gebreek. Die Tugela is vol in vloed vanoggend. Krane is droog en al ons water vloei rivierlangs (met die papierkoppies wat ek vroeg gisteraand vir hulle koffie in gevat het). Ek wonder hoeveel galonne water vloei verby.

As al die water net in die Vaaldam kon invloei was Gauteng gered vir volgende jaar se droogte.

Hoe bevoorreg is ons nie om op die wal van ‘n rivier te woon nie. Dis pragtig. Water wat verbystroom. My 15-jarige dogter se opmerking vanoggend op pad skool toe was ook net “lieflik”.

‘n Nuwe woonstelblok word gebou reg oorkant die rivier en selfs die ontwikkelaars en tegniese mense probeer die onbevoegde mense help om die stromende vermorsing van water te keer en hulle luister net nie. Horende doof!

Mens kry mos diegene wat nie weet dat hulle nie weet nie. Hulle betaal nie vir die water nie. Hulle word betaal om nie die probleem te kan oplos nie. Ek

wil daar gaan werk. Niks word vermag nie, maar jy word betaal.

My salon staan, ek kan nie werk nie. Wie gaan my verlies inboet? My arme bediende en tuinjong moet ook vanoggend die vloed aandurf om droog by die werk te

kom. Die twee dierbare siele kan ook nie verstaan hoekom die mense betaal word nie. Poppy kannie vandag skoonmaak en wasgoed was nie, want die water is nie waar dit moes wees nie.

Mense! Ons lewe in die 21ste eeu. Ons was nie meer klere in ‘n rivier nie.

Tugelastraat is nou offisieel Tugelarivier. Ek verkies regtig eerder my huisie by die Vaalrivier. Maar dan weer, dié rivier is ook vrot weens onbevoegde siele wat nie

weet dat hulle nie weet nie. So, we are stuck between a rock and a hard place.

Dis 9.30vm en uiteindelik het hulle sluis kom toedraai. Nou staan hulle weer na die gat en kyk asof hy self gaan leegloop. Dit lyk darem na ‘n paar nuwe, ek hoop darem meer bevoegde gatkykers, maar hulle kyk net nog steeds.

Hulle het in die bakkie gesit en kuier vir ongeveer ‘n uur en ‘n half voor daar ‘n pomp opgedaag het.

‘n Mens sou dink na die week se gespartel met ‘n gat so groot soos ‘n splashpool, vandag se span sou geweet het om een saam te bring.

Ek dink God sit al met sy hande in sy hare oor hierdie mensdom wat sy genadewater so mors.

Dis die derde dag, en daar was water, en dit was goed…

O nee wag, daar was nog altyd water. Hoe kan ek nou so fout maak.

Dank die hemele.

Carien Olivier

Groete hier uit die Tugela-distrik in Glen Marais

To be continued…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button