LettersOpinion

By dié skool kry elkeen erkenning by meriete-aand

Meriete-aande by Oos-Rand Akademie is ’n fees van eie prestasie in die ontwikkeling van hul leerders

DR DF OLIVIER van Friedmanstraat skryf:

Toe ek op 29 November Oos-Rand Akademie se meriete-aand bygewoon het, het dit my weer eens getref dat elke skool tog maar sy eie besondere karakter het.

Talle faktore dra natuurlik by tot die vorming van die besondere karakter van ’n skool, net soos talle faktore die invloed wat die besondere karakter van ’n skool op die ontwikkeling van ’n spesifieke leerling as mens het, bepaal.

Dit is duidelik dat Oos-Rand Akademie beslis ’n privaatskool met ’n merkbare verskil in benadering tot sy leerders is. Die klem op die interaksie met leerders is op volledig menswees vanuit ’n Christelike perspektief.

Daar word na die ontwikkeling van elke leerder se eie besondere aanleg en belangstellings gestreef. Dit het duidelik na vore gekom in die feit dat, op die meriete-aand, elke leerder erkenning ontvang het vir sy of haar eie akademiese prestasies, asook ander sosiale bedrywighede.

Die soort aandag kan aan leerders gegee word omdat die klasse nie groot is nie – nie meer as 18 per klas nie, verneem ek. Vir die soort aandag wat leerders in hulle ie moedertaal, Afrikaans, ontvang, is die klasgelde uiters billik in vergelyking met ander skole.

Wat my ook opgeval het, is hoeveel van die leerders in uiteenlopende sportsoorte, asook ander buiteskoolse aktiwiteite provinsiale asook nasionale kleure verwerf het. Leerders word aangemoedig om hul sport en ander belangstellings by klubs en ander instansies te beoefen waar hulle die nodige professionele aandag kan ontvang.

Dié benadering werp duidelik vrugte af.

Meriete-aande by Oos-Rand Akademie is ’n fees van eie prestasie in die ontwikkeling van hul leerders, nie net vir enkele uitblinkers nie. As ek nog skoolgaande kinders gehad het, sou ek dit baie sterk oorweeg het om hulle by Oos-Rand Akademie in te skryf.

Hou so aan Oos-Rand Akademie. Soos julle leuse sê: Reik Hoog.

Mag julle elke jaar nuwe hoogtes bereik in julle toewyding aan die ontwikkeling van die jeug aan julle toevertrou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button